Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Talle wil padgee uit SA ná plundery

Emigrasiekonsultante word oorval met navrae ná die onluste en geweld voorverlede week in KwaZulu-Natal en Gauteng.

Dít kom ná ’n jaar van traer emigrasie weens Covid-19-inperkings, waarin heelwat Suid-Afrikaners van oorsee teruggekeer het nadat hulle hul werk daar verloor het.

John Dunn, direkteur van Sable International, sê sedert die onluste uitgebreek het, is navrae drie keer meer as verlede jaar.

“Dit gebeur dikwels wanneer daar politieke onsekerheid is: Daar is ’n geweldige toename vir so twee tot drie maande, dan plat dit weer af. Die vorige keer was in 2015, toe Nhlanhla Nene as minister van finansies afgedank is.”

Nie net navrae skiet tans op nie – ook diegene wat voortgaan met aansoeke is 25% hoër as verlede jaar, sê hy.

Onder die aansoekers is mense wat “uitkoms” soek, mense wat lankal kwalifiseer om te emigreer en nou finaal daarop besluit het, en welgestelde mense wat “goue visums” kan koop in Amerika, Ierland, Portugal of Malta.

‘Ons vra mense om mooi te dink.’

Hannes Breytenbach van Breytenbach Immigration Consultants, wat emigrasie na Brittanje fasiliteer, het aan Rapport gesê belangstelling in emigrasie het in 2020 toegeneem maar is sedert die onluste “deur die dak”.

Nog ’n sneller vir verhoogde belangstelling is die publikasie van voorgestelde wysigings aan die vuurwapenbeheerwet wat op 23 Mei onthul is op die voorblad van Rapport.

“Al ons konsultante is weke reeds vooruitbespreek. Ons werk ná ure en selfs oor naweke om voor te bly.”

Aansoekers voel onveilig – en is bang dat hulle hulself nie sal mag verdedig teen gevare nie.

“Die afgelope week se onluste met die polisie en weermag wat later opgetree het, het die persepsie versterk,” sê Breytenbach.

Daar is ook vrese oor die beplande nasionale gesondheidsversekering (NGV), en kommer oor die waarde van die rand en onteiening sonder vergoeding.

“Ek spesialiseer sedert 1998 in migrasiereg en het nooit verwag dat so baie mense die land sou wou verlaat nie – nie só drasties nie. Daar is ongekende angs en dringendheid,” sê Breytenbach.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) se jongste halfjaar-bevolkingsyfers, wat op 19 Julie vrygestel is, het die emigrasie van meer as 600 000 wit Suid-Afrikaners sedert 1985 daartoe bygedra dat wit mense ’n al kleiner deel van die Suid-Afrikaanse bevolking uitmaak – 7,8% teenoor 9% in 2011. ’n Laer bevolkingsaanwas onder wit vroue speel egter ook ’n rol.

Die halfjaar-bevolkingsyfers raam 48,6 miljoen van Suid-Afrika se 60,1 miljoen inwoners is swart, 5,3 miljoen bruin, 4,7 miljoen wit en 1,5 miljoen Indiër/Asiaties.

Kenners is egter bekommerd oor die betroubaarheid van migrasiedata en nie alle tendense wys in dieselfde rigting nie.

Magnus Heystek, direkteur van Brenthurst Wealth, het vroeër aan Rapport gesê Suid-Afrika het nie betroubare emigrasiesyfers nie. Daar is nie ’n amptelike buro wat emigrasiedata invorder nie.

Baie mense wat nie bates in Suid-Afrika het nie, verlaat die land onaangekondig en kom nie weer terug nie. Hul inligting word nie in die amptelike sensusdata weerspieël nie.

Oor die rasverdeling van emigrante is daar ook onsekerheid, aangesien SSA dit nie aanteken nie. In 2017 het ’n witskrif oor migrasie geraam meer swart as wit beroepslui verlaat die land om oorsee te gaan werk.

SSA het sy halfjaar-bevolkingsyfers daarom op inligting geskoei wat die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (Oeso) bekend maak, asook plaaslike sensusdata en syfers van die Internasionale Immigrasie-organisasie.

Hulle raam 90 957 wit Suid-Afrikaners het sedert 2016 die land verlaat – 14% minder as wat in 2019 geprojekteer is. SSA skryf die effense afplatting aan Covid-19-reisbeperkings toe.

Nieu-Seeland, Australië en Brittanje het aangedui hulle het sedert Februarie 2020 minder immigrante ontvang.

Dié lande, saam met Amerika en Kanada, is veral onder Afrikaners die gunstelinge, het Solidariteit se navorsingsinstituut (SNI) in ’n 2019-studie bevind.

Volgens dié verslag het 681 984 Afrikaners (wit en bruin) tussen 2000 en 2017 in Australië, Nieu-Seeland, Kanada, Amerika en Brittanje gewoon.

Connie Mulder, hoof van die SNI, het aan Rapport gesê SSA se syfers reken egter nie Suid-Afrikaners in wat terugkeer nie.

“Ons het opgemerk dat tussen 10% en 20% weer terugkom wanneer hulle in hul 30’s of 40’s is. Dis gewoonlik wanneer hul kinders begin skoolgaan.”

Julian Pokroy, ’n regsgeleerde wat in immigrasie na Suid-Afrika spesialiseer, is ook “stomgeslaan” deur die aantal Suid-Afrikaners wat nou terugkom van oorsee, dikwels nadat hulle in die Covid-19-krisis hul werk oorsee verloor het. Hy sê dit word moeiliker om te emigreer, tensy jy uitsonderlike vaardighede het of skatryk is.

“Mense wat wil emigreer, besef nie altyd wat vir hulle voorlê nie. Dis anders om in ’n land te wóón as om daar vakansie te hou.”

Ook Mulder sê daar is ’n groot verskil tussen mense wat navraag doen om te emigreer en diegene wat op die ou end die land verlaat.

FNB se jongste eiendomsbarometer wys dat net 7% van Suid-Afrikaners wat die afgelope jaar hul huise verkoop het, doen dit omdat hulle emigreer, sê Siphamandla Mkhwanazi, ekonoom by FNB. Die vorige jaar was dit 17%.

“Maar dit was vóór die afgelope twee weke se oproer,” sê hy.

“Ons vra mense om mooi te dink,” sê Dunn van Sable International. “Jy woon nou in ’n drieslaapkamerhuis in ’n goeie woonbuurt. Sal jy dieselfde lewenspeil kan handhaaf oorsee?

“Daar’s baie faktore wat in ag geneem moet word – oorgrensbelasting, die ingewikkeldheid van finansiële emigrasie, jou eie geldsake.”

Meer oor:  Onluste  |  Plundering  |  Emigrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.