Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Tampontaks moet afgeskaf word, vra US

As gratis kondome aan mense verskaf kan word, kan ons regtig ’n plan met duur sanitêre produkte ook maak, sê Monja Posthumus-Meyjes van die Universiteit Stellenbosch (US) se regskliniek.

Daarom het die regskliniek ’n skriftelike voorlegging by die nasionale tesourie ingedien om te vra dat dié produkte by die lys van BTW-vrye items gevoeg word.

Posthumus-Meyjes was deel van ’n navorsingspan wat tampontaks in Suid-Afrika ondersoek het.

Tampontaks is BTW wat op vroulike higiëniese produkte gehef word en is volgens Posthumus-Meyjes ’n vorm van geslagsdiskriminasie. Sanitêre produkte kan nie as ’n luuksheid gesien word nie omdat dit vir vroue ’n noodsaaklike higiëniese produk is waarsonder hulle nie kan klaarkom nie.

“Sowat 30% van skoolgaande meisies in Suid-Afrika kan nie skool toe gaan wanneer hulle menstrueer nie. Hulle kan gewoonlik nie die nodige produkte bekostig nie en moet dikwels opsies soos lap, stukke klere en sanitêre doekies wat gewas is, gebruik.

“Hoe armer ’n vrou of meisie is, hoe minder vryheid het sy om higiëniese keuses uit te oefen. Dit is meestal die meisies se enigste opsies,” sê Posthumus-Meyjes.

Luidens ’n verklaring deur die US volg die regskliniek se voorlegging op die tesourie se versoek vroeër vanjaar dat voorleggings gedoen word met die oog daarop om die lys van BTW-vrye produkte te hersien.

Posthumus-Meyjes, Danielle Louw, Erika Wright, dr. Lize Mills en Silke de Lange was deel van die navorsingspan. Hul navorsing het bevind gebrekkige toegang tot vroulike higiëniese produkte weens hoë pryse is ’n groot probleem vir arm, agtergeblewe vroue en meisies in Suid-Afrika.

Volgens die navorsing verloor skoolgaande meisies sowat 90 dae per skooljaar omdat hulle nie skool toe gaan as hulle menstrueer nie.

Netwerk24 het vroeër berig die regering sloer al twee jaar met die afskaf van BTW op sanitêre produkte vir vroue en die nasionale tesourie sou daarop fokus om geld te vind om dié produkte gratis aan armes te verskaf.

Kenia het in 2004 die eerste land geword wat tampontaks afgeskaf het en in 2017 het Mauritius gevolg. Posthumus-Meyjes sê sy hoop Suid-Afrika volg ook binnekort die internasionale neigings om die produkte meer bekostigbaar vir arm mense te maak.

Lees ook meer hier.

Meer oor:  Stellenbosch  |  Us
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.