Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Tandarts is Wes-Kaap se nuwe skaakkampioen
Mark Lewis, die vorige kampioen, oorhandig die wennerstrofee aan Fide-meester dr. Shabir Bhawoodien (Mhatey). Foto: Eduard King

’n 63-jarige tandarts van Constantia, Kaapstad, het die afgelope naweek sowat 100 spelers uitoorlê om die nuwe Wes-Kaapse skaakkampioen te word.

Dr. Shabir Bhawoodien (Mhatey) is ’n skaakmeester van die internasionale skaakvereniging (Fide).

Die Wes-Kaapse Geslote Kampioenskap is by Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch gehou met drie rondes per dag, Saterdag en Sondag.

Bhawoodien het 5,5 punte uit ’n moontlike 6 behaal.

“Die wonderlike ding van skaak is dit is nie verbonde aan ras, taal, geloof, ouderdom, geslag of maatskaplik-ekonomiese omstandigheid nie. Enigiemand kan dit geniet,” het hy Dinsdag gesê.

Hy beskryf skaak as “gimnasium vir die brein” en ’n sport wat bande tussen mense en families bou.

“Skaak laat jou van jou probleme vergeet.”

Daar was groot belangstelling in die toernooi – een van die eerstes wat sedert die staat van inperking van krag geword het in persoon gespeel is – maar streng maatreëls is gevolg.

Bhawoodien was in 2003 die Wêreld-amateur-skaakkampioen en het ook in 2018 die Paul Roos Ope gewen.

In sy opgang na die titel het hy in die derde ronde met die Suid-Afrikaanse kampioen, die Fide-meester (FM) Daniel Barrish, ’n Matie-student, afgereken.

Hy het daarna nog ’n Stellenbosser, die vroue-kandidaatmeester (WCM) Rebecca Selkirk, ook tot oorgawe gedwing.

Bhawoodien het reeds die titel verseker voordat die laaste ronde begin het, en het in die finale ronde teen Albrecht van Zyl genoeg gedoen om ’n halwe punt te verseker en daarmee die titel met ’n hele punt te verower.

Barrish het die tweede plek met 4,5 punte beklee. Barrish moes harde bene kou in die laaste ronde teen die 12-jarige Kapenaar Jan Karsten.

Barrish het al sy rondes gewen, behalwe teen Bhawoodien.

Van Zyl van die Grassy Park-skaakakademie het die derde plek behaal. Hy het ook 4,5 punte behaal, maar volgens die uitklopstelsel het Barrish beter as Van Zyl gevaar.

Die Paul Roos-leerling Alexander van der Merwe het met ’n stewige vertoning die vierde plek behaal en ook die eerbewys vir die beste junior in die kampioenskap-afdeling gewen.

Selkirk het die beste prestasie vir ’n vrou in die toernooi behaal met drie punte.

Jan het nie net Barrish laat bontstaan nie, hy het in die eerste ronde vir kandidaat-meester (CM) Andrew Floris Bartoli geklop, asook die vorige Wes-Kaapse kampioen, Mark Lewis.

In die prestige-afdeling het Dawid Nieuwoudt, ook ’n Paul Roser, volpunte behaal en daarmee die afdeling gewen.

In die tweede plek was Allistair Mattys van die Paarl en in die derde plek was Phuthang Makhupane van die Kaapse Universiteit vir Tegnologie-klub.

Die beste junior was Reinhardt Prinsloo en die beste vrou was Zante Palmer.

• Die Eden Geslote Kampioenskap is ook in George gehou. Die wenner was Werner Ottervanger met 5,5 uit 6 punte en die vrouekampioen was Nicola Putter met ’n perfekte telling van 6.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.