Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Tannie Koelsoem en Flori se kookboek 'ruk'
“Dit voel vir my nog soos ’n droom. Ek kan dit steeds nie glo nie.”

“Dit voel nog soos ’n droom. Eers het ons gedink dat die boek ná die TV-program sou uitsterf. Soos ons in die Kaap sê, die ding ruk . . . en dit ruk handuit!”

So vertel tannies Flori Schrikker (64) en Koelsoem Kamalie (69) van Bonteheuwel, wie se kookboek, Kook saam Kaaps, onlangs deur die Gourmand-kookboek-beoordelaars as die beste nasionale kookboek aangewys is.

Die boek ding nou mee met internasionale boeke om die Gourmand-wêreldkookboekprys wat in Mei in China aangekondig word.

“Toe ek die nuus hoor, was ek stomgeslaan. Ek is ’n baie emosionele mens en het byna heeldag gehuil,” vertel Schrikker.

Die boek is reeds 38 weke lank die topverkoper op die Nielsen-peiling en ’n topverkoper in Suid-Afrika.

Kamalie sê om te kook was nog altyd in haar bloed.

“Ek het by my ouma grootgeword en daar was altyd potte aan die kook. Almal wat na haar huis gekom het, het altyd met ’n vol maag daar uitgestap. So ook in hierdie huis. Dit maak my gelukkig om heerlike kos aan ander voor te sit,” vertel sy.

Tannie Koelsoem Kamalie en tannie Flori Schrikker, die twee bobaaskokke van Bonteheuwel, se kookboek is onlangs deur die Gourmand-kookboekbeoordelaars aangewys as die beste kookboek in die land. Foto’s: Lerato Maduna
Tannie Flori Schrikker (regs) wys hoe maklik dit is om haar pynappeltert te maak. By haar staan Zuleiga Kamalie (middel) en tannie Koelsoem Kamalie (links).

Hulle sê die kookboek is waarskynlik so suksesvol oor die maklike resepte.

“Dit is bestanddele wat almal in hul huis het. Niks fancy nie, net maklike kos wat ver kan gaan. Ons het in groot gesinne grootgeword en my ouma het altyd kos gemaak wat die hele gesin kon voed,” vertel Schrikker.

Terwyl sy ’n pynappeltert binne vyf minute aanmekaarslaan, gee sy sommer ’n stukkie raad oor die liefde ook.

“Die moderne vrou sê altyd dat hulle nie tyd het nie, maar hulle sal moet tyd maak, want die pad na ’n man se hart is deur sy maag,” sê sy.

Die twee bobaaskokke maak ook seker dat die mae van die kinders in die gemeenskap gevul is deur ’n sopkombuis te bedryf.

“Soos jy kan sien, my huis is altyd oop en hier is altyd mense wat hier in en uit,” sê Kamalie.

Hulle het ook ’n tweede boek, Soettand, wat eersdaags drukkers toe gaan en teen Februarie op die rakke verskyn.

In die boek deel hulle soetgebak en poedings wat reeds jare lank familiegunstelinge is, soos onder meer ouma Rose se doekpoeding, ’n onderstebotert, potpoeding en tweegevrietjies.

Hulle is ook bekend vir hulle kookreeks Flori en Koelsoem se kosse Woensdae op Via.

Meer oor:  Droom  |  Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.