Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Voëlklip-gesin se laaste minute

Spore wys dat die Volkswagen Caravelle waarin Heidi Scheepers en haar twee kinders Dinsdag 120 meter ver in die see by Voëlklip ingetuimel het, reguit van die parkeerterrein af by die uitkykpunt oor die afgrond gery het.

Ettienne Scheepers kniel Vrydagaand by die blommekruis tydens klein Hugo se gedenkdiens by die Little Farm Preschool. Foto: Deon Raath

Oor bespiegeling dat sy doelbewus oor die krans gery het, wil die polisie en die familie niks sê nie.

’n Gebroke Ettienne Scheepers het Vrydagaand ’n gedenkdiens bygewoon vir sy tweejarige seuntjie, Hugo.

Hugo se lykie is Donderdag uit die Suid-Kaapse see gehaal.

Saterdagmiddag het ’n inwoner van Heroldsbaai ’n vrou se lyk in die water naby die hoofstrand sien dryf.

Die gelukkige familiefoto’s op hul Facebook-blaaie spreek van ’n gewone, hegte gesin.

Die polisie het haar net voor 15:00 uit die water verwyder.

Daar word aanvaar dat dit Heidi was.

Haar sesjarige dogtertjie, Cuzette, is steeds weg en die soektog duur voort.

Vrydagaand het ’n gebroke Etienne Scheepers, Heidi se man, by Hugo se kleuterskool, die Little Farm Preschool, by ’n kruis van rose gekniel en ’n kersie vir sy seun daar neergesit.

Ettienne en Heidi Scheepers met hul kinders Cuzette en Hugo in gelukkiger tye. Foto: Facebook

Huilende vriende en kennisse het in ’n kring rondom die kruis gestaan en sing en pleitend gebid vir die ma en dogter se lewens.

Prentjies en briefies wat kinders, onderwysers en lede van die publiek vir Hugo gemaak het, is by ’n gedenkmuur opgeplak.

“Liefste klein Hugo, jou tyd op aarde was so min en kort. Weet net tannie was lief vir jou. Jy was soveel pret. Jou plek is leeg. Ek gaan jou voorwaar mis,” lui een van die briefies.

Heidi (35), wat vakansiewoonstelle verhuur het, was ’n wonderlike ma en mens, het ’n lid van die gemeenskap gister gesê. Hy sê die gesin was gelukkig, buiten vir die gewone spanning waaronder mense leef.

Die lyk van ’n vrou is gistermiddag by Heroldsbaai se hoofstrand aan wal gebring. Foto: Kristy Kolberg, George Herald

Die gelukkige familiefoto’s op hul Facebook-blaaie spreek ook van ’n gewone, hegte gesin.

Die onderstel van die motor is Donderdagmiddag uit die water getrek.

Iemand wat gehelp het om die voertuig uit die see te sleep, sê daar was bykans niks van die voertuig oor nie.

“Die motor is twee dae lank deur die kragte van die water en die rotse en die mossels verniel. Ons het dit gelig om te kyk of daar lyke onder of binne-in is, maar daar was niks.

“Hulle wou die voertuig daar los, maar toe hulle die kabels optrek, het die voertuig saamgekom en dit is toe uit die water uit getrek.”

Heidi is Dinsdag laatmiddag laas lewend gesien toe sy saam met Ettienne en die kinders langs die strand gaan stap het.

Die foto wys waar die motor van die krans af in die see beland het. Foto: Deon Raath

Ettienne het toe van die strand af teruggestap na sy onderneming, die Heroldsbaai-kafee.

Heidi en die kinders is in die motor weg en toe hulle nie terugkeer nie, was daar aanvanklik vrese dat sy ontvoer is.

Maar die volgende oggend was dit duidelik dat die Caravelle oor die krans gestort het toe dele van die motor teen die hange gekry is.

Voëlklip is ’n gewilde hengel- en uitkykpunt naby Heroldsbaai. Die grondpad wat tot by die parkeerterrein lei waar Heidi afgery het, word nie gereeld gebruik nie.

Die polisie kon gevolglik geen ooggetuies kry van haar laaste oomblikke nie, het ’n lid van die gemeenskapspolisiëringsforum gesê.

Die wrak van die Volkswagen Caravelle word uit die water gelig. Foto: Verskaf

Nege mense het sedert 2015 hul lewens by Voëlklip verloor deurdat hulle oor die rotse getuimel het.

Die laaste tragedie was op 22 Desember verlede jaar toe ’n brander Josh Allpas en sy broer, Simon, van die rotse geslaan het. Josh is dood, maar sy broer het oorleef.

Werner Finger (20), Luandro Jansen (21) en Marnic Els het op 15 November 2015 met ’n Toyota Dakar-bakkie oor die afgrond getuimel op dieselfde plek waar Heidi nou afgery het.

Jansen en Els se lyke is gekry, maar Finger s’n nie.

Hul bakkie lê steeds onderaan die krans waar die Caravelle dié week oor is.

Meer oor:  Heidi Scheepers  |  Ettienne Scheepers  |  Heroldsbaai  |  Vermis  |  Gesin  |  Tragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.