Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Tant Muis sterf arm soos sy gelewe het
Tant Muis Pretorius (77) is die week dood. Sy is hier in die Kussman-gemeenskap vir haweloses buite Bloemfontein in 2018 afgeneem. Hoewel sy beter blyplekke kon kry, was sy vasgevang in ’n stelsel van misbruik deur ’n familielid. Foto: Charles Smith

Tant Muis is op ’n plek waar sy haar nie meer oor swaarkry, honger en pyn hoef te bekommer nie.

Tant Muis Pretorius (77), bekende eertydse inwoner van die Kussman-gemeenskap vir haweloses buite Bloemfontein, is die week dood.

Sy was die gesig van dié groepie haweloses toe ’n artikel oor hulle in 2018 in Volksblad en op Netwerk24 baie aandag getrek het. Elkeen van haar bitter moeilike lewensjare was uitgekerf in die plooie op haar gesig.

Hoewel sy deur hulporganisasies soos Helpende Hand goeie blyplek en mediese sorg aangebied is, was sy vasgevang in ’n stelsel van misbruik deur ’n familielid waaruit sy nie kon kom nie.

Die staat kon ook nie ingryp nie, omdat sy nie ’n klag wou indien nie.

Netwerk24 was by toe Helpende Hand met die hulp van veiligheidsbeamptes haar in 2019 uit die kloue van die stelsel wou kry, maar sy het geweier. Die familielid, wat klaarblyklik haar maatskaplike toelae gebruik het vir dwelms, het haar gedreig om haar mond te hou.

Sy is kort tevore ook só erg aangerand dat daar vir haar lewe gevrees is.

Tant Muis Pretorius (77) is die week dood. Haar storie en foto het ook in dié boek verskyn. Foto: Charles Smith

Sy is gewurg toe hy haar TV vir drankgeld gaan verkoop het en sy ongelukkig was daaroor. Hy het ’n joernalis toe weggejaag en gedreig toe ’n foto van haar geneem is en het haar erg gevloek en verbied om te praat.

Helpende Hand het haar wel later vir ’n mediese ondersoek geneem.

Hester Bekker van Guardian Angels, wat haar en ander minderbevoorregtes bystaan, het die nuus oor haar dood bekend gemaak. Sy het by haar dogter, Elize, in Bloemspruit gewoon. Dit het gelyk asof sy ’n epileptiese aanval of hartaanval gehad het.

Kobus Venter van Helpende Hand het Woensdag ná die nuus oor haar dood gesê ondanks tant Muis se swaarkry was sy ’n vrou vir haar man, ’n ma vir haar kinders en ’n ouma vir haar kleinkinders.

“Net ’n paar maande gelede wou sy nie dat ons haar na die stad toe skuif om ’n gemakliker lewe te lei nie, sy wou by haar kinders en kleinkind wees. Soos met alle stories is dit dalk ’n gepaste einde dat sy in Vrouemaand haar tydelike tuiste verruil het vir haar ewige woning. Rus sag tannie, jammer ons kon nie meer doen nie.”

Bekker sê Guardian Angels sal hulp nodig hê vir tant Muis se begrafnis. Die familie sal dit nie kan bekostig nie, sê sy.

Meer oor:  Helpende Hand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.