Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Tawwe koekie’ oorleef Covid ná 10 dae op ventilator
Meryl Henning, bemarker van die Loch Logan-waterfront in Bloemfontein, (regs) saam met Teagan-Leigh Scholtz, ’n veeartsenykundestudent in haar finale jaar en Henning se enigste kind, wat uit die kloue van Covid-19 kon ontsnap. Foto: Facebook

“Om deel van die statistiek van Covid-19-sterftes te word, was nooit deel van my plan vir my vyfde en finale jaar van studie om ’n veearts te word by Onderstepoort in Pretoria nie.”

So sê Teagan-Leigh Scholtz (24) wat baie ernstig siek en tien dae lank aan ’n ventilator gekoppel was.

Sy is die enigste kind van Meryl Henning, jare lange bemarker van die Loch Logan-waterfront in Bloemfontein en haar voormalige man, Mar’c Scholtz.

Die oudleerling van die Eunice High School in Bloemfontein sê sy was amper dood.

Teagan-Leigh Scholtz (24), wat sê sy voel geseënd om te kan leef ná Covid-19. Haar siekte het haar hele uitkyk op die lewe verander. Foto: Facebook

“Ek wens ek was net dramaties, maar so jonk soos wat ek is, was ek op ’n ventilator in die hoësorgeenheid van die Groenkloof-hospitaal in Pretoria waar ek om my lewe geveg het. Dit voel nou so onwerklik,” sê sy.

“Ek het Covid-19 opgedoen en het aanvanklik goed by die huis gevaar, maar is dokter toe omdat my suurstofvlakke op my suurstofmeter tuis bly daal het. Ek en my vriend, Storm Sanderson, het selfs gedink die metertjie werk nie reg nie.”

Die suurstofmeter was egter nie gebreek nie.

“My longe het my in die steek gelaat en ek het stille hipoksie, ’n tekort aan suurstof in die bloed en weefsel, gehad. My suurstofvlak was in ’n stadium net 36,” sê Scholtz.

“Binne ’n uur was ek in die hospitaal opgeneem, onder verdowing geplaas en met ’n pyp in die mond aan ’n masjien gekoppel.”

Sy was uiteindelik van 1 tot 12 Julie in die hospitaal en tien dae lank aan ’n ventilator gekoppel.

Sy glo stres het haar daar laat beland.

“Ek het nie ophou leer vir die eksamen nie en het nie genoeg aandag aan my gesondheid gegee nie. Ek moes opgehou het toe ek siek geword het.”

Teaghan Leigh Scholtz (24) en haar vriend, Storm Sanderson, wat haar deur Covid-19 se hel bygestaan het. Foto: Facebook

Toe sy uit die hospitaal kom, het sy in Bloemfontein by haar ma gaan aansterk. En daar in haar bed kon sy “God nie genoeg bedank” vir die feit dat Hy haar lewe gespaar het nie.

“Ek het begin evalueer wat belangrik is en wat ek moet doen om ’n meer gebalanseerde lewe te leef. En ek is so ongelooflik dankbaar vir almal se stemboodskappe in die hospitaal wat liefde en ondersteuning uitgestraal het en mense wat vir my gesê het dat hulle vir my bid.”

Scholtz sê sy was 110% seker dat sy gaan sterf.

“Daar was dae in die hospitaal dat ek daar gelê het en net heeltyd gedink het dat ek nou ’n sterk kop moet hê om te kan oorleef.”

Sy voel nou “geseënd” om te kan sê sy het Covid-19 oorleef.

Teagan-Leigh Scholtz (24) Foto: Facebook

“Dit is my getuigskrif van hoe ongelooflik die God is wat ek dien. Hy het my gespaar. Hy het aan my gewys om hospitaal toe te gaan. Hy het dié besluite vir my geneem,” sê sy.

“Is ek sterk? Hel, ja. Ek sal die eerste een wees wat sal toegee dat ek ’n ‘tawwe koekie’ is, maar net omdat ek dit van my vier ongelooflike ouers gekry het.”

Sy sê tussen haar beskermende engelouer, haar stiefpa, Gerhard Henning, wat reeds dood is, en haar drie lewende “ouers” en Sanderson het sy dit gemaak. Sy is dankbaar teenoor haar pa, Mar’c, en stiefma, Jo-Anne, en haar eie ma, Meryl. Sanderson word telkens uitgesonder, asook die verpleegkundiges en dokters in die Groenkloof-hospitaal – veral dr. Richard Siebert, internis, en sy ongelooflike span.

“Hulle moes nie net die moeilike besluite neem nie. Hulle het my ouers gebel en hulle het my hospitaalouers geword,” sê Scholtz.

“Ek is soveel dank aan hulle verskuldig omdat hulle my lewe verander het. Om net dankie te sê gaan eenvoudig nooit genoeg wees nie.”

Meer oor:  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.