Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Taxi-staking op George dwing busse tot stilstand

Weens protesoptrede deur stakende taxibestuurders op George in die Suid-Kaap is die busdiens van Go George, ’n geïntegreerde openbare vervoernetwerk, tot verdere kennisgewing opgeskort.

Die brug by die ingang na die township Thembalethu was Dinsdagoggend ’n ruk lank gesluit, maar is later weer vir verkeer oopgestel. Na verneem word, is klippe vroeër na motors gegooi en mense is glo gekeer om werk toe te gaan.

Die polisie Dinsdagoggend in Thembalethu op George. Foto: Jackie Kruger

Daar was ’n sterk polisieteenwoordigheid op die N2-afrit buite Thembalethu, asook in die township waar taxi’s op hul staanplek saamgetrek het. Talle mense moes stap.

“Verkeersdienste en wetstoepassers monitor die situasie,” het Chantel Edwards-Klose, ’n munisipale woordvoerder van George, op die munisipaliteit se WhatsApp-groep gesê.

Maandagaand laat het die munisipaliteit aangekondig dat Go George se busdiens tot verder kennisgewing opgeskort is.

Dit volg op berigte dat Go George se busbestuurders en passasiers Maandag deur lede van die taxibedryf geïntimideer is. Die bestuurders het vir hul veiligheid en dié van hul passasiers gevrees. Dit het gelei tot vertragings en ’n gedeeltelike diens sedert Maandagmiddag laat.

Na verneem word, is die taxibestuurders omgekrap oor die optrede van verkeersbeamptes, die uitreiking van permitte en taxi’s wat van die pad verwyder is.

In ’n verklaring het James Robb, bestuurder van Go George, gesê die besluit om die busdiens op te skort is nie ligtelik geneem nie hoewel hulle bewus is van die

die negatiewe impak daarvan op sakeondernemings en skole, en inwoners wat openbare vervoer nodig het om by die werk en gesondheidsdienste uit te kom.

Gegewe vorige gewelddadige aksies deur ontevrede individue is dit die beste besluit.

Passasiers word aangeraai om alternatiewe reëlings te tref en ’n beroep word gedoen op George se gemeenskap om mense wat vervoer benodig te ondersteun.

  • Op 18 Augustus 2015 is vier busse van Go George aan die brand gesteek, dieselfde dag wat ’n protesaksie in Thembalethu plaasgevind het.
Meer oor:  Go George  |  Taxibestuurders  |  Staking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.