Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Tazne: Gesoekte man het sy eie seuntjie mishandel

Die man wat geïdentifiseer is as iemand wat die polisie in sy soektog na die vermiste Tazne van Wyk (8) kan help, het sy eie tweejarige seuntjie in 2001 so erg mishandel dat die kind later aan sy beserings dood is.

Die polisie is op soek na Moyhdine Pangarker (54) wat vermoedelik in die soektog na Tazne van Wyk kan help.

Moyhdine Pangarker (54) het in 2004 in die landdroshof in Bellville op twee aanklagte van ontvoering, een aanklag van kindermishandeling en een aanklag van moord tereggestaan. Die aanklag van moord is later na een van strafbare manslag verander.

Luidens hofstukke in Netwerk24 se besit het Pangarker in April 2001 sy tweejarige seun en naamgenoot uit die sorg van sy ma, Rosetta Pietersen, by haar huis in Ladismith in die Wes-Kaap ontvoer.

In dié hofstukke word die seuntjie se naam as Moyhdien gespel, terwyl Pangarker se naam in polisieverklarings die afgelope week as Moyhdine gespel word.

Hy het die seuntjie na Kaapstad geneem waar hy hom oor ’n tydperk (van April 2001 tot Junie 2001) herhaaldelik mishandel het deur hom met onder meer met ’n lyfband of met die plathand te slaan. Luidens die klagstaat is die seuntjie ook gereeld teen die kop geslaan en was die mishandeling so erg dat dit “tot die algemene benadeling van die kind gelei het”.

Moyhdien is op 15 Junie 2001 aan sy beserings dood.

Pangarker is uiteindelik in Maart 2003 in hegtenis geneem. Die destydse ondersoekbeampte het Donderdag gesê hy het Pangarker uiteindelik ná ’n ondersoek van meer as twee jaar op ’n plaas buite Ladismith opgespoor.

Hy is op 28 Februarie 2008 skuldig bevind aan een aanklag van ontvoering, asook aanklagte van kindermishandeling en strafbare manslag.

Pangarker was onder korrektiewe toesig en moes vir die duur van sy parool in Ladismith bly.

Die tweede aanklag van ontvoering het verband gehou met ’n ander voorval in Oktober 2001 toe hy na bewering ’n ander minderjarige seuntjie uit sy ma se sorg in Clarke Estate, Elsiesrivier, ontvoer het. Op dié aanklag is hy onskuldig bevind.

Pangarker is op 1 April 2008 twee jaar tronkstraf vir die ontvoering van Moyhdien, ses maande vir kindermishandeling en tien jaar tronkstraf vir strafbare manslag opgelê. Die vonnisse is samelopend uitgedien, en hy is op 17 Oktober 2016 op parool vrygelaat nadat hy agt van tien jaar tronkstraf uitgedien het.

Dit is volgens inligting ’n onlangse foto van Tazne van Wyk. Sy word sedert Vrydag vermis.

Pangarker was onder korrektiewe toesig en moes vir die duur van sy parool in Ladismith bly.

Paroolbeamptes van die departement van korrektiewe dienste het hom op 6 Februarie vanjaar as ’n droster geïdentifiseer nadat hulle hom verskeie kere gaan soek het en voor dooiemansdeur gekom het.

’n Saak is in die Ladismith-polisiekantoor teen Pangarker aanhangig gemaak, waarna ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is. Dit is egter nie die enigste lasbrief teen hom nie. Hy word ook in Worcester gesoek.

Pangarker moes op 6 Februarie vanjaar in die landdroshof in Worcester verskyn, maar het nooit by die hof opgedaag nie.

Tazne, wat op Vrydag 7 Februarie verdwyn het, is laas in Clarestraat, Connaught Estate, Elsiesrivier, gesien toe sy winkel toe gestap het. Sy het nie teruggekeer huis toe nie.

Die polisie het die naweek gesê Pangarker kan hulle moontlik in die soektog na Tazne help.

’n Polisiewoordvoerder, kol. Andrè Traut, het Donderdag gesê die soektog na Tazne gaan voort. Volgens hom is daar nog geen nuwe verwikkelinge nie.

Meer oor:  Moyhdine Pangarker  |  Tazne Van Wyk  |  Bellville  |  Ontvoering  |  Kindermishandeling  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.