Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Te vroeg,’ sê vriend oor fietsryer wat doodgery is
Andrew Randall is dood nadat ’n motor deur ’n groep fietsryers gejaag het. Foto: Verskaf

Andrew Randall was Vrydagoggend deel van die agterhoede van ’n groep fietsryers toe ’n Toyota Tazz van agter af in hulle vasgejaag en aanhou jaag het.

Die 45-jarige verkoopsman van Pretoria is deur die volle impak van die motor getref.

Sekondes nadat dié pa van twee jong kinders geval het, kon sy fietsry-vriende geen pols of asemhaling voel nie.

Die polisie en nooddienste op die toneel waar ’n fietsryer in Centurion doodgery is. Foto: Verskaf

Die bestuurder, wat wel deur die fietsryers op die toneel aangekeer is, het weggehardloop toe hulle aandag aan ’n ander beseerde fietsryer moes gee wat gesukkel het om asem te kry.

“Wat ’n hartseer, hartseer dag,” het een van die fietsryers later gesê.

Verskeie vriende het later op Randall se Facebookblad geskryf: “Te vroeg, ou vriend, te vroeg.”

Fietsryers staan geskok en verdwaas nadat een van hul vriende dood en ander beseer is in ’n tref-en-trap-ongeluk.Foto: Verskaf

Randall is dood en verskeie lede van Bestmed se Bicycle Company-klub beseer in die vroegoggend tref-en-trap-voorval op die R55-pad naby Erasmia, net buite Centurion.

Drie van hulle is ernstig beseer, terwyl die passasier van die Tazz ook ligte beserings opgedoen het.

David Labuschagne, een van die fietsryers, sê hulle was omtrent 14 fietsryers wat omstreeks 05:00 vanaf ’n winkelsentrum in Centurion begin ry het.

“Ons was net verby die Zwartkops-wedrenbaan, almal met rooi flikkerende liggies, fietsligte en binne die geelstreep van die dubbelpad, toe ek ’n slag hoor.

“ ’n Toyota het van agter verby my gekom, drie of vier fietsryers bo-op die enjinkap. Die motor het nog ’n goeie 150 m gery voordat dit teen ’n reling tussen die twee dubbelbane gestop het.

Die wit Toyota Tazz wat deur die groep fietsryers gejaag het, staan met ’n stukkende voorruit teen ’n reling nadat die bestuurder weggehardloop het.Foto: Verskaf

“In die proses is omtrent agt ryers raakgery. Ek was gelukkig dat dit my nie getref het nie,” sê Labuschagne.

Hy het gesien twee ander ryers lê agter hom waar die motor verby is, maar ook besef sy vriend Derek Venter is halflyf deur die motor se ruit.

“Ek het na Derek gehardloop. Die motor se passasiersdeur was gesluit. Ek moes die syvenster breek om die deur oop te maak en die passasier uit die motor te trek om by my vriend te kom.”

Labuschagne kon toe eers vir Venter help om op die passasiersitplek te sit totdat mediese hulp opdaag.

Omstanders beweer die passasier was glo “papdronk”.

Intussen het ander fietsryers Randall se vrou, Tracy, gebel.

Die spore wat die Toyota Tazz gelaat het van waar die groep fietsryers getref is tot waar die motor teen die reling tot stilstand gekom het.Foto: Verskaf

Sy het nie Vrydagoggend saamgery nie, maar tuis by hul twee kinders gebly.

Richard White, ’n vriend van die Randalls, het kort daarna self na Tracy gegaan.

“Sy is vanselfsprekend verpletter,” sê White.

Prajey Ramjee van die PAJ Community Patrollers, ’n veiligheidsmaatskappy, sê hulle is net ná 06:00 ontbied.

“Dit was nog effens donker, maar ons kon ongeveer 14 fietse langs die kant van die pad sien lê.

“Die eerste wat my oog gevang het, was die oorledene. Dit het gelyk of hy dalk weens kopbeserings dood is,” sê Ramjee.

Tracy en Andrew Randall.Foto: Verskaf

Talle ander fietsryers het skrape aan hul knieë en elmboë gehad soos hulle geval het.

“Die fietsryers het gesê hulle het op die skouer van die pad in ’n noordelike rigting gery toe die Tazz net gekom en deur die groep gevee het.

“Die motor het toe geswenk en die reling langs die pad getref.

“Die fietsryers het die bestuurder aangekeer en laat wag totdat die owerhede opdaag.

“Maar toe begin daar verkeer aankom en een van die beseerdes lê nog in die pad en die fietsryers moes gaan help.

“Die Tazz-bestuurder het die kans gebruik om weg te hardloop,” sê Ramjee.

Die polisie en die Tshwane-metropolisie het intussen die publiek versoek om te help met die opsporing van die bestuurder.

“Ons vra dat die man na vore kom om ons te help met die ondersoek,” sê snr.supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie.

Konst. Tumisang Moloto, woordvoerder van die Erasmia-polisie, sê hulle ondersoek ’n saak van strafbare manslag en roekelose bestuur.

“Met die polisie se aankoms is een persoon op die toneel dood verklaar, terwyl vier ander mense, insluitende ’n passasier van die Tazz, beseer en hospitaal toe geneem is,” sê Moloto.

Meer oor:  Andrew Randall  |  Centurion  |  Paasverkeer  |  Fietsryer  |  Padsterftes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.