Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Tekort aan openbare vervoer lei tot oorlading’

’n Tekort aan openbare vervoer in die Oos-Kaap se landelike gebiede lei grootliks tot die oorlading van busse en taxi’s.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, praat Dinsdag met inwoners van die plaaslike gemeenskap waar ’n bus teen ’n steilte afgery en 29 lewens geëis het. Foto: Twitter

So is Dinsdag beweer terwyl Fikile Mbalula, minister van vervoer, die toneel naby Centane besoek het waar ’n bus Maandagoggend teen ’n steilte afgery het.

Teen Dinsdagmiddag het die dodetal van die gru-busongeluk op 29 gestaan.

Altesaam 24 mense, wat 15 vroue en nege mans insluit, is op die toneel dood. ’n Driejarige kind, wat Maandag die eerste beseerde was wat met ’n helikopter van die ongelukstoneel af na ’n hospitaal gebring is, is later dood, en nóg vier mense is Dinsdag in hospitale dood.

Altesaam 63 mense is in die ongeluk beseer.

Die ongeluk het gebeur toe die bus, wat hoofsaaklik pensioentrekkers vervoer het om hul maatskaplike toelaes te onttrek en inkopies te doen, Maandagoggend tussen Chebe en Butterworth teen ’n steilte afgery het.

Die toneel waar die bus se wrak Maandag tot stilstand gekom het. Foto: Verskaf

Dié bus van die AB350-busmaatskappy het volgens owerhede 300 m verder in ’n diep kloof te lande gekom.

Manelifi Siguqa, ’n skakelbeampte vir die AB350-busmaatskappy, het Dinsdag gesê die betrokke bus kan 81 passasiers vervoer. Met die ongeluk was daar 91 insittendes.

“Ingevolge ons beleid word die oorlading van ’n voertuig nie toegelaat nie en moet ons aan die wet voldoen.”

Siguqa wou nie bespiegel oor wat tot die busongeluk gelei het nie. Hy het gesê hulle sal wag dat die ondersoekbeamptes hul werk voltooi voordat hulle hierop sal reageer.

“Daar is op die oomblik so baie verskillende stories van ooggetuies en passasiers, ons weet nie wat om te glo nie. Daarby is die bestuurder ook dood.”

In gesprekke Dinsdag tydens Mbalula en Weziwe Tikana-Gxothiwe, LUR vir vervoer in die Oos-Kaap, se besoek, is beweer dat ’n bus of taxi selde hul verskyning in die betrokke afgeleë gebied maak. Wanneer ’n bus wel verbykom, maak soveel as moontlik inwoners gebruik van die geleentheid, wat soms tot oorlading van passasiers lei.

Unathi Binqose, ’n woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van vervoer en veiligheid, sê die minister het Dinsdag ’n beroep op alle busbestuurders gedoen om hul voet dwars te sit wanneer hul voertuig die maksimum kapasiteit bereik het, eerder as om in die ekstra geld van meer passasiers vas te kyk.

Binqose sê die provinsiale departement sal ook gehoor gee aan Mbalula se versoek om voldoende padaanwysings en padrelings op paaie langs afgronde aan te bring.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, die Oos-Kaap se polisiekommissaris, het ook Dinsdag die toneel van die busongeluk besoek. Foto: Verskaf

“Die padrelings is veral nodig op paaie waar súlke afgronde is. Dit sal ten minste verhoed dat motoriste teen berge afry wanneer hulle beheer verloor.”

Mbalula het verder ’n beroep gedoen vir ’n gedenkteken van herinnering vir die slagoffers wat in die ongeluk dood is, terwyl die departement sal begin met ’n projek vir veiligheid-nakoming wat spesifiek op openbare busse fokus.

“Geen voertuig wat openbare vervoer lewer, moet op ons paaie wees as dit nie aan alle veiligheidsvereistes voldoen nie,” het Mbalula gesê.

Hy het ook werknemers wat onder bedrieglike omstandighede padwaardigheidsertifikate uitreik, gewaarsku dat hulle deel vorm van die probleem en die volle impak van die wet sal ervaar.

“Ook busbestuurders wat busse oorlaai en menselewens in gevaar stel, sal swaar gestraf word,” het hy gesê.

Die betrokke busmaatskappy het intussen gratis vervoer gebied aan die familielede wat oorledenes en besittings ná die ongeluk moes uitken.

Siguqa sê die maatskappy gaan R5 000 tot die begrafnisreëlings vir elkeen van die betrokke families bydra.

“Ons wil werklik ons innige meegevoel uitspreek aan elke familielid en vriend wat ’n geliefde verloor het. Ons is ook dankbaar vir elke departement wat uitgekom het om te help.”

Meer oor:  Fikile Mbalula  |  Oos-Kaap  |  Busongeluk  |  Openbare Vervoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.