Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Tempe-slagoffer se dogter wil ‘vlerke kry’ nes haar pa

Sy glo haar valskermsoldaat-pa sou haar wou “vlerke gee”. Sy wil soos hy eendag valskerm spring en deur die wêreld reis.

So sê Liani Coetzer (21) op die dag van die 20ste herdenking van die Tempe-slagting op 16 September 1999 waarin haar pa, maj. Jacques Coetzer, en sewe makkers doodgeskiet is.

Liani Coetzer (21), die dogter van maj. Jacques Coetzer wat op 31-jarige ouderdom op 16 September 1999 in die Tempe-slagting in Bloemfontein doodgeskiet is. Foto: Charles Smith

Lt. Sibusiso Madubela, ’n oud-Apla-soldaat, het daardie nag kort ná 01:00 in 1SA Infanteriebataljon se hoofkwartier op die Tempe-basis in Bloemfontein agt wit soldate met ’n R4-aanvalsgeweer geskiet voordat hy deur kollegas doodgeskiet is.

Liani was nie eens twee jaar oud nie en haar pa en ma, Lianda, se eersteling. Sy het net sewe foto’s van haar en haar pa saam.

Haar profielfoto op WhatsApp is van haar op haar matriekafskeid aan die Hoërskool Fichardtpark waarby haar pa se foto gevoeg is.

Hoewel sy hom nooit geken het nie, lyk sy en is sy baie soos hy, vertel haar ma. Sy is avontuurlustig en tree soms impulsief op. Sy het ook dieselfde nukke, soos dat verskillende soorte kos op ’n bord nie aan mekaar mag raak nie.

Liani sê sy wil ook soos pa Jacques, wat by 44 Valskermbataljon by Tempe opgelei is, “vlerkies kry” en sy beduie na die vlerkies wat valskermsoldate op die bors dra. In haar geval wil sy deur die wêreld reis. En eendag wil sy valskerm spring.

Liani, ’n sielkundestudent in haar derdejaar aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê sy dink haar pa sou net die beste vir haar wou gehad het.

“Ek dink nie my pa sou wou hê ek moet terugstaan in die lewe nie,” sê sy beslis.

Die hunkering na haar pa was veral op Liani Coetzer (21) se matriekafskeid aan die Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein baie erg. Die fotograaf het toe ’n foto van haar pa, maj. Jacques Coetzer (31), wat in die Tempe-slagting op 16 September 1999 doodgeskiet is, langs haar op die matriekafskeidfoto ingevoeg. Sy was nie eens twee jaar oud toe hy dood is nie.

“Hy sou wou hê dat ek voluit leef en nie dat sy dood my terughou van geluk nie. As ek wil tandemvalskermspring, moet ek dit doen. En as ek die wêreld wil sien, moet ek die wêreld sien.”

Sy het op ’n tyd Bloemfontein gehaat oor die feit dat haar pa hier doodgemaak is. Sy sou as kind die weermagvoertuie minagtend salueer, maar dan ’n middelvinger gooi.

“Die Tempe-skietery het my en my familie geraak. Dit was glad nie lekker om verby Tempe te ry en verby die mense (soldate) te loop en te weet dat hulle die oorsaak van my pa se dood is nie.

“My pa het soveel planne in die lewe gehad, daar was soveel geleenthede vir hom oop. Daar was sprake van ’n pos in Amerika. Omdat hy besluit het om (die weermag) te kies, is dit van hom af weggeneem.”

Maar daar kom ’n tyd dat jy moet aanvaar, sê sy ’n paar kilometer van 1 SAI Infanteriebataljon in Tempe waar haar pa koelbloedig doodgeskiet is deur ’n verbitterde lt. Sibusiso Mbulela.

Liani Coetzer (21) het net sewe foto's van haar saam met haar pa, maj. Jacques Coetzer. Hy is op 31-jarige ouderdom op 16 September 1999 in die Tempe-skietery doodgeskiet.

“Ek het die oorsaak aanvaar. Ek het nie my pa se dood noodwendig aanvaar nie, want dit is ’n leemte in my hart. Maar ek moet aanvaar wat gebeur het. Ek gaan nie vir ewig vir Tempe kwaad wees nie. Dit is nie hulle wat dit gedoen het nie, dit is nie die mense wat nou daar werk nie.”

Jy moet aangaan met jou lewe, sê Liani.

“Jy kan nie dat wat met jou gebeur het jou terughou nie. Die woede, die seer in jou, kan jou nie van geluk weerhou nie. Dit is wat vir my belangrik was.”

Sy sê die Tempe-slagting het in ’n mate haar lewe bepaal. Sy studeer sielkunde om haarself ook te verstaan. En eendag wil sy Amerika toe om oudsoldate met posttraumatiese stressindroom te behandel. Sy wil mense help.

Liani sê haar ouma, Tienie Coetzer van Bloemfontein, het haar veral deur die jare geleer om selfstandig te wees en alles vir haarself te kan doen. Sy is nou sterk genoeg om alles te doen.

’n Dogter waarop haar pa trots sou wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.