Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Temperatuur van ontploffing bereik 2 000 °C

“Nie vlees of bloed sou daardie hitte kon weerstaan nie,” sê Victor Isaacs, DA-wyksraadslid van Macassar, oor Maandag se ontploffing by die Rheinmetall Denel-aanleg.

“Ons weet nie of daar lyke was nie,” het Isaacs Dinsdagaand op ’n gemeenskapsvergadering gesê.

Die Rheinmetall Denel-aanleg se aanwysingsbord. Foto: Jaco Marais

Hy het saam met Rhoda Bazier, van die ANC, antwoorde aan die gemeenskap probeer gee oor die gebeure waarin vermoedelik agt mense Maandag gesterf het.

Die ontploffing het  Maandag omstreeks 15:30 plaasgevind. Dit is egter nog onduidelik hoeveel mense beseer is of steeds vermis word.

Ses oorledenes is van Macassar, een is van die Strand en een is van Lwandle. Vyf was tydelike werknemers van Denel en die res was permanent aangestel.

Isaacs het gesê daar sou waarskynlik niks van die mense oorgebly het nie omdat die temperatuur van die ontploffing 2 000 °C was.

“Nie vlees of bloed sou daardie hitte kon weerstaan nie en ons weet nie of daar lyke was nie,” het Isaacs gesê. Hy sê ’n menseliggaam word teen 900 °C veras.

“Die liggame sou stukkend geskiet gewees het.”

Die idee was dat die bestuur van Denel saam met die wyksraadslede met die gemeenskap vergader en probeer verduidelik wat gebeur het.

“Die gemeenskap het die vergadering goed ontvang, maar niemand van Denel het die vergadering bygewoon nie.”

Hy het gesê die vergadering is juis gehou om diegene wat geliefdes verloor het, te ondersteun.

Dit is ons grootste prioriteit om die name en dodetal te bevestig sodra die uitkenningsproses voltooi is.
Norbert Schulze

“Ons wil ’n eenheid vorm agter die families,” het Isaacs gesê.

Daar word beplan om die burgemeester of premier so gou as moontlik te nader met ’n versoek om ’n kommissie van ondersoek te begin.

Eerstens wil Isaacs ’n groep gemeenskapsleiers aanwys sodat hulle saam met die wyksraadslede die bestuur van Denel kan ontmoet om oor verskeie kwessies te praat.

Die belangrikste is wat Denel gaan doen om die veiligheid van die gemeenskap te verbeter en ook hoe die families wat geliefdes verloor het, vergoed sal word.

“Die mense hier lewe daagliks in vrees. Volgens hulle word daar daagliks toetse gedoen en dit maak hulle baie bang,” het Isaacs gesê.

Denel se afwesigheid by die vergadering het veroorsaak dat van die gemeenskapslede nie meer glo wat hulle sê nie.

Norbert Schulze, Rheinmetall Denel se uitvoerende hoof, het gesê die voorval word ondersoek onder leiding van die polisie en die departement van arbeid.

In ’n laatmiddag-verklaring sê die maatskappy die oorledenes is herwin om uitgeken te word.

“Dit is ons grootste prioriteit om die name en dodetal te bevestig sodra die uitkenningsproses voltooi is.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.