Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Terry Dempsey ‘was ’n kosbare man’, sê dogter

Terry Dempsey het Sondagoggend saam met familielede op ’n pier by die Vaaldam gestaan, nie as befaamde liedjieskrywer en musiekvervaardiger nie, maar as skoonseun van die man wie se as hulle sou strooi.

Hy was daar saam met sy vrou, Carrie, en sy kinders en kleinkinders wat bymekaar gekom het vir ’n laaste eerbetoon aan “Oupa Max”, Carrie se pa, wie se as vanuit ’n girokopter in die Vaaldam gestrooi sou word.

Die polisie en nooddienspersoneel was gou op die toneel waar Terry Dempsey (77) deur die skroef van ’n girokopter getref is. Foto: Verskaf

Toe verdonker die hartseerdag verder: Dempsey, die “Renaissance-man” van die plaaslike en internasionale musiekbedryf, sterf toe die girokopter waaruit die as gestrooi sou word, se lem hom tref.

Dempsey (77) is op die toneel dood.

Hy het die afgelope 50 jaar diep spore in die musiek- en kunsbedryf getrap met treffers soos “Daydreamer” wat geskryf is vir die sanger David Cassidy en die immergroen “Love is a Beautiful Song” wat destyds ’n nr. 1-treffer in Suid-Afrika, Kanada en Australië was en gesing is deur Dave Mills.

Hy het ook saamgewerk met sterre soos Sir Cliff Richard, Tina Turner en Sir Tom Jones.

Maandag was hy vir sy geliefdes egter net Terry Dempsey, die oupa, pa en eggenoot wat oor minder as ’n maand sou verjaar. ’n “Kosbare man”, het sy dogter, Angela, hom genoem.

Sy seun, Paul, se stem was Maandag nog rou van die trauma en ontsteltenis. Hy kon nog nie oor Sondag se tragedie praat nie.

Die foto wat Angela Dempsey van haar pa, Terry, enkele ure voor sy dood geneem is. Foto: Angela Dempsey/Facebook

Angela, wat van Australië gekom het vir die seremonie, het op Facebook gesê dit was die eerste keer in twee jaar wat sy weer haar familie in Suid-Afrika sou sien.

Sy het enkele ure voor die voorval ’n foto van haar stralende pa geneem.

By die foto het sy geskryf: “My pa is gister omstreeks 11:30 dood in ’n verskriklike fratsongeluk voor ons hele familie, insluitende sy kleinkinders.

“Ons is platgeslaan en totaal getraumatiseerd, veral my arme ma.”

Sy voeg by dat hulle dankbaar is vir elke gebed wat vir die familie gebid word terwyl hulle probeer aanpas “by ’n lewe sonder hierdie kosbare man wat ons so liefgehad het”.

Angela eindig met: “Hy was gelukkig, vreedsaam en tevrede.”

Ooggetuies vertel dat die familielede op die pier by die Sunset Shore-oord by die Vaal Marina gestaan het in ’n gewyde oomblik, wagtende vir Carrie se pa se as wat in die dam gestrooi sou word.

“Dit het gelyk of die girokopter krag verloor. Die vlieënier het na die gras langs die dam gemik om ’n noodlanding te maak.

“Almal het uit die pad gekoes, maar ongelukkig kon die ou oom (Dempsey) nie gou genoeg uit die pad kom nie en toe tref die skroef hom.

“Dit was ’n verskriklike slegte ongeluk,” vertel een.

’n Ander man sê hulle het net ’n “helse slag” gehoor. Kort daarna het die toneel gewemel van nooddienspersoneel, die Midvaal-brandweer en polisielede en -honde.

Terry Dempsey, befaamde liedjieskrywer en skilder, by een van sy kunswerke. Foto: Terry Dempsey-webblad

Terwyl die gebied afgesper is, het ds. Gerhard Oosthuizen, die brandweer-kapelaan, die familie bygestaan.

Shawn Herbst van die Netcare 911-nooddiens sê Dempsey is op die toneel dood.

Die ontstelde en geskokte vlieënier en passasier van die girokopter het aan paramedici gesê hulle is nie beseer nie.

Werner Vermaak van ER24 sê hulle is omstreeks 12:00 na die toneel ontbied. “Ongelukkig kon daar niks vir die man gedoen word nie weens die veelvuldige ernstige beserings wat hy opgedoen het.”

Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die Burgerlugvaartowerheid, het gesê hulle het reeds Sondag die toneel besoek en begin met die proses om die oorsaak van die ongeluk te ondersoek. Die girokopter is reeds verwyder.

Teen Maandagoggend het huldeblyke vir Dempsey begin instroom. Een van die eerstes was Anthony Turton, ’n vriend en voorsitter van ’n maatskappy wat oplossings soek vir Suid-Afrika se dreigende waterkrisis.

“Terry was nie net ’n hoogaangeskrewe liedjieskrywer en kunstenaar nie. Hy het saam met my gewerk aan die skepping van die Unstoppable Movement for Positive Change, ’n inisiatief om lewensvatbare oplossings vir ons waterprobleme te vind.

“Hy het ’n pragtige lied ter ondersteuning hiervan geskryf, gesing deur Steve Kekana. Ons is reeds in ’n gevorderde stadium van beplanning vir die inisiatief,” sê Turton.

Ek was altyd verbaas oor sy ratsheid van verstand, sy doelgerigtheid. Hy het instinktief geweet wat mense wou hê.

Hy, Dempsey en ander betrokkenes het net verlede week nog vergader.

“Hy het op dié vergadering vertel dat sy familie vanuit verskillende dele van die wêreld in Suid-Afrika bymekaarkom vir ’n familie-geleentheid,” onthou Turton.

Hy beskryf Dempsey as ’n lewenslustige, positiewe mens, iemand met ’n sterk behoefte om mense te inspireer.

“Ek was altyd verbaas oor sy ratsheid van verstand, sy doelgerigtheid. Hy het instinktief geweet wat mense wou hê.”

Turton het sy simpatie uitgespreek met die Dempsey-familie wat nou “deur ’n dubbele hartseer getref is”.

Brian le Gassick van die Suid-Afrikaanse musiekgroep The Staccatos het op Facebook gesê dit is met “groot hartseer dat ek van Terry se tragiese heengaan verneem”.

Dempsey het vroeër jare een van die groep se groot treffers, “Butchers and Bakers”, vir hulle geskryf.

Die Dempsey-familie het in ’n verklaring gesê hulle gaan deur ’n “ongelooflike moeilike tyd” en dat die begrafnisreëlings later bekend gemaak sal word.

Wie was Terry Dempsey?

Terry Dempsey is deur talle beskryf as ’n “ikoon” in die musiekbedryf.

Sy familie het in ’n verklaring gesê hy was ’n “ware Renaissance-man”, wat ’n professionele liedjieskrywer, platevervaardiger, musikant, bestuurder, digitale kunstenaar, rolprent- en televisievervaardiger en skilder vir langer as 50 jaar was.

Behalwe vir die bykans 40 trefferliedjies wat hy geskryf het, het hy ook verskeie pryse ontvang en is hy ook genomineer vir ’n Ivor Novello-prys in Brittanje, lui die verklaring.

Daarby is Dempsey ook gekies as komponis vir beide die Tokyo Song Festival en die Tokyo Music Festival in Japan.

Hy was stigter en president van The Loony’s Charity Organisation, die amptelike liefdadigheidsorganisasie van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf.

Dempsey het verskeie bekende temaliedjies vir onder meer TopSport, die Comrades-marathon, Drive Time en Wings over Africa in sy tegnologies gespesialiseerde opname-ateljee geskryf en vervaardig.

Hy was sedert 1988 vir drie jaar lid van die raad van die National Organisation of Rights in Music (NORM), en twee jaar lank die voorsitter.

In 1999 het Dempsey die fliek Heel against the Head vervaardig met Bill Flynn en Paul Slabolepszy wat daarin gespeel het. Nie net het dié rolprent tweede op die Suid-Afrikaanse rolprent-ranglys geëindig nie, maar Dempsey het ook talle van die liedjies vir die fliek geskryf.

Dempsey was ook die musiekuitgewer van die Afrika-musiekopvoering UMOJA - The spirit of Togetherness, wat selfs in die Shaftesbury-teater in Londen se West End hoog aangeskryf is.

As besturende direkteur van Angela Music was hy voorts mede-uitgewer van musikale werke vir Warner Brothers en die Walt Disney Corporation.

Angela Music het ook die musiek vir die fliek Fire with Fire met Oliver Reed, sowel as vir die TV-reeks Shaka Zulu, vervaardig.

As professionele liedjieskrywer was hy die talent agter talle internasionale treffers vir sangers soos Tom Jones, Engelbert Humperdinck, David Cassidy, Cliff Richard, The New Seekers en Demis Roussos.

Meer oor:  Vaaldam  |  Girokopter  |  Musiek  |  Liedjies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.