Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Thanda Inja - ’n liefdestaak vir honde

Bruno die eenoog-townshiphond het net gekom vir ’n inenting.

Daar is egter ’n noodgeval: Baby, ’n babahond, lê pap-siek van bosluiskoors op ’n staaltafel onder ’n gazebo tussen plakkershuise. Sy het dringend ’n bloedoortapping nodig.

Bruno se stertswaai-vriendelike geaardheid, en as die naaste gesonde hond van die regte gewig, noop dr. Waldo Rossouw, veearts, om sy oubaas te vra: Kan Bruno nou, op die plek, bloed skenk?

Hy verduidelik die bosluiskoors maak bloedselle dood en die baba-hond moet nuwe bloedselle inkry. Sy gaan nie kan vasbyt tot by ’n dierekliniek nie.

Gewoonlik word honde-bloedskenkers se bloedgroep getoets, maar daar is nie tyd nie. Die veeartse sal vir Baby dophou en gereed staan vir enige teenreaksie – wat in die stadium meer hanteerbaar is as die tekort aan bloedselle.

Banele Nhlapo (16) knik, wink sy boeties, Kabelo en Kamogelo (albei 14), nader en tel vir Bruno op die tafel.

Die hond lê so soet dat die broers se hande hom nie soseer stilhou nie, maar meer troos en aanmoediging.

Hy lê geduldig totdat die sakkie vol bloed is.

Daar, in ’n oop stuk veld duskant Daveyton in Ekurhuleni, kry Baby ’n impromptu lewensreddende bloedoortapping.

Bruno se eienaars, drie boeties, help elkeen vashou en troos terwyl hy inderhaas van township-hond na bloedskenker bevorder is. Foto: Deaan Vivier
Banele Nhlapo (16) en sy broers, Kabelo en Kamogelo (albei 14), draf speel-speel met hul honde terug huis toe nadat hulle ingeënt is – en Bruno sommer ook bloed geskenk het. Foto: Deaan Vivier

Hondeliefde

Dit was net een van vele wonderwerke wat die afgelope Dinsdag onder die vaandel van Thanda Inja, ’n niewinsgewende organisasie, gebeur het.

Die naam beteken “Love a Dog”.

Elke tweede week, die afgelope vyf jaar al, kom vrywilligers en veeartse, sommige verbonde aan die Gautengse departement van landbou en landelike ontwikkeling, met kanne water, kragopwekkers, kombersies, ’n tent en mediese toerusting, insluitende suurstofbottels, na die townships.

Hulle steriliseer, ent in, behandel wonde, ontwurm – dinge wat die diere-eienaars nie kan bekostig nie.

Dit is ’n “dierehospitaal” waar alles op ’n stukkie veld van 250 m² gedoen word.

Inwoners van die townships naby Daveyton wag van vroegoggend af met hul troeteldiere vir behandelings en ondersoeke. Foto: Deaan Vivier

“Ons einddoel is om ’n verkleinde, gesonde dierebevolking in die townships te verseker.

“Die inwoners kom in hul hordes in die hoop dat ons hul diere kan help. Gewone veeartsonkoste is reeds baie duur vir ’n middelklas-diere-eienaar. Hierdie mense moet soms kies tussen kos vir hulself en hulp vir hul diere, maar maak altyd ’n plan,” sê Cheryl Gaw, stigter van die Thanda Inja-projek.

“Van hulle begin donkeroggend van die huis af stap, kilometers ver vir hulp. Party dra hul diere, ander bedel ’n saamrygeleentheid by iemand, want die taxi’s wil nie honde en katte vervoer nie.

“Dit is nie te sê omdat die eienaars arm is, hulle is nié lief vir hul diere nie. Vir talle bied die troeteldier dieselfde emosionele band as wat dit vir enige ander persoon doen.

“Die diere oordeel nie omdat hulle in ’n plakkershut bly nie. As jy sien hoe stroom die mense hiernatoe, die moeite wat hulle doen om hulp vir hul diere te kry – dit wys mos dat hulle omgee.

“Ons leer hulle iets en hulle pas dit toe. En die nuus versprei deur die townships dat ons elke tweede Dinsdag kom, so nog mense kom soek hulp vir hul diere,” sê Gaw.

Desperaat vir hulp

Uit die stofpad draai ’n man met ’n kruiwa na die dierehospitaal.

Binne-in lê Mukudi.

David Lebesa laat sak die kruiwa versigtig.

’n Desperate David Lebesa stoot vir Mukudi met ’n kruiwa na die Thanda Inja-projek vir hulp.Foto: Deaan Vivier

Hy sukkel met Engels en Afrikaans, beduie fronsend dat sy hond nie eet nie, iets by die maag is seer. Help vir Mukudi.

Hy frommel met sy hande terwyl Rossouw sy hond ondersoek.

Lewerversaking.

Rossouw wink Alicious Nkonzo, veeartsassistent, nader om te tolk: Mukudi se lewer werk nie. Daar is klaar spierverswakking, vog in die buik. Die dier kan nie gered word nie, en sal mettertyd stadig en pynlik vrek.

Van kant maak is die genadiger opsie.

Die hond lig swakkies die kop.

Lebesa tree weg van die kruiwa, hande op die heupe, kop afwaarts terwyl hy luister wat Nkonzo sê.

Gaw fluister: “As hier nie hulp was nie, het daardie hond nou tot die dood toe gely.”

’n Mens se beste vriend

’n Entjie verder maak ’n trop honde vriende met mekaar terwyl hul eienaars in die ry wag vir inentings. Die meeste het nie leibande aan nie, hulle is nie bakleiers nie.

Ander wag geduldig agterop bakkies.

Een fris kruising bokspring toe hy ’n nuwe aankomeling sien: Nkosinathi Motau (12) trek vinnig sy sussie, Simthandi (2), weg. Net ingeval.

Simthandi vervies haar, want sy is oortuig haar boetie wil vir Teddy, die hondjie in haar arms, wegvat.

Nkosinathi Motau (12) probeer sy sussie, Simthandi (2), help wat vasbeslote is om self vir Teddy na die veearts te dra. Foto: Deaan Vivier

Nkosinathi verduidelik Teddy moet kom vir “inspuitings”. Hulle gaan ’n kaartjie en papiere kry wat hulle moet terugvat huis toe.

Intussen maak Thumelo Zondo paaigeluide vir Rocky, hoewel dié rottweiler-bokser-kruising so uit soos ’n kers op sy rug op die staaltafel lê.

Hy het in die week van die werk af gekom en gesien Rocky het bytmerke aan sy keel, wat nou ’n abses vorm.

Die taxi wou nie dat hy Rocky inlaai nie. ’n Private veearts sal hom R3 000 kos.

Hy moes iemand vir ’n saamrygeleentheid na Thanda Inja vra.

“Ek lief hom te veel. Rocky is my vriend. Ek het hom nie vir beskerming nie, hy bly saam ons familie. Hier is nie ’n veearts naby nie, en hy het seer,” sê Zondo, terwyl hy die groot lyf help draai sodat dr. Athiksha Bodasingh die keel skeer voordat sy die abses dreineer.

Die staaltafel is die “operasietafel”. Die handskeermessie word in ’n plastiekbakkie met seepwater afgespoel. ’n Bottel ontsmetmiddel staan naby.

Daarna word die steeds slapende Rocky na ’n blou tent geneem, wat so steriel soos ’n hospitaal ruik.

Dr. Bernadette Eales skrop vir die soveelste keer haar hande.

Sy doen die kastrasies en sterilisasies.

Rocky word op die tafel neergelê, ’n groen lappie om sy lende. Tjop-tjop word hy gekastreer.

Dr. Bernadette Eales maak gereed vir Rocky se kastrasie. Sy keel is nog rooi waar bytwonde en ’n abses kort tevore behandel is. Foto: Deaan Vivier

Rocky in droomland terwyl dr. Bernadette Eales hom kastreer. Foto: Deaan Vivier

Die bytwonde en abses aan Rocky se keel word behandel voordat dit septies kan raak. Foto: Deaan Vivier

Nkonzo tel hom soos ’n baba op, dra hom na ’n kombers onder ’n gazebo.

Zondo is dadelik by. Hy sit die geel sakkie met medisyne en ontsmetmiddels lang hom neer – die veearts het dit gegee sodat hy Rocky se bytwonde tuis kan skoonhou.

Hy gooi ’n kombersie oor sy slapende hond, neurie saggies totdat Rocky se oë begin flikker.

Thumelo Zondo wag geduldig by Rocky wat nog diep in ’n narkose-slaap lê. Foto: Deaan Vivier

Rocky begin ontwaak nadat eers die bytwonde aan sy keel skoongemaak is en hy toe gekastreer is. Foto: Deaan Vivier

Gemeenskap weet

Malcolm Gaw, Cheryl se man, verduidelik: “Baie van hierdie mense is werkloos, stukwerkers of pensioenarisse, maar van hulle kyk mooier na hul diere as baie ander wie se hond maar net in die erf van ’n reusehuis bly.

“Arm, ryk of middelklas – almal het dieselfde liefde vir hul diere.”

Nee, voeg hy by, daar was net een keer effense veiligheidsprobleme, toe iemand op hulle begin skree het.

“Maar die gemeenskap het die man weggejaag. Hulle weet ons is hier om hul diere te help,” vertel hy.

Op die staaltafel lig Baby die eerste keer haar kop en kyk leepoog rond.

Baby se eienaar, Nthoamehleng Monatho, hou ’n vertroostende hand op die hondjie wat dringend ’n bloedoortapping weens bosluiskoors moes kry. Sy het vir Baby ingebring toe dié lusteloos raak en nie wou eet nie.Foto: Deaan Vivier

“Ah, klaar beter,” prys die veearts.

Baby se ounooi moet ’n vorm invul, want hoewel sy vir nou buite gevaar is, moet sy na ’n dierekliniek gaan vir verdere behandeling.

Tussen die vier veeartse en die vrywilligers is 160 honde en katte gedokter, ingeënt en gesteriliseer.

Ilana Marnewecke van die Thanda Inja-projek som die dag op: “Daar is dikwels kritiek teen mense wat troeteldiere aanhou wat lyk asof hulle dit nie kan bekostig nie, maar dié mense het dikwels ’n diep band met hul diere.

“Die diere bied kwesbare mense emosionele ondersteuning en ’n rede om soggens op te staan. Daar is talle studies wat wys diere het ’n positiewe invloed op kwesbare gemeenskappe.”

Die Thanda Inja-projek

Die Thanda Inja-projek is ’n inisiatief van Pug Rescue South Africa.

Dié het 11 jaar gelede die lig gesien toe Cheryl Gaw, in daardie stadium ’n sakevrou, met haar eie troetel-mopshonde, ’n “baie bekoorlike lewe” met ’n groot huis in ’n luukse buurt gelei het.

Eendag het een van haar verkoopsbestuurders vertel van ’n mopshond wat haweloos gelaat is en Gaw het die hond gaan haal.

“Toe ek weer sien, sit ons met 19 pugs sonder heenkome en geen tuin,” sê sy laggend.

Sy en haar man het ’n ander eiendom gekoop en vir 15 maande in ’n woonwa-huis gebly terwyl “behuising” vir verlore mopshonde opgerig is.

“Toe bou ons eers ons huis.”

Die diere-organisasie was nou haar heeltydse “werk”.

’n Paar jaar later is Gaw veearts toe met een van die mopshonde.

“’n Man met slof-plakkies aan het aangestap gekom met ’n duidelike siek hond. Soms het hy sy hond gedra.

“Hulle is by die veearts in. En uit. Ek het die man voorgekeer. Sy naam was Eddie en sy hond Spider.

“Hy het 15 km van die township af gestap om vir Spider hulp te kry, en toe word hy weggewys omdat hy nie geld het nie,” vertel Gaw.

Sy het daar en dan die veearts ingelig dat sy vir Spider se behandeling sal betaal – mits hy ook gekastreer word.

Sy het oubaas en hond later terug na die Daveyton-omgewing gevat – en gesien hoe groot die behoefte aan veeartsenyhulp is.

Die Thanda Inja-projek is hieruit gebore.

Die droom

Die projek is afhanklik van skenkings. Medisyne, kos, brandstof kom van ander se goedhartigheid af.

Malcolm, Gaw se man, sê hulle droom van ’n dierehospitaal in Benoni, ’n tipe middelpunt tussen townships.

“Dit sal steeds ’n niewinsgewende hospitaal wees, en ons kliënte ’n heeltemal ander inkomstegroep as dié van kommersiële veeartse.

“As ons (diere-)ambulanse het, kan ons na die gemeenskap uitgaan, daar help, maar ernstige gevalle na die hospitaal neem.

“Die mense sal ook weet dat, in noodgevalle op dae wat ons nie in die townships is nie, waar om hulp te soek,” sê hy.

Dié droom gaan egter miljoene kos.

Tot dan is hulle dankbaar vir elke druppel welwillendheid van skenkers.

Lees hier meer oor die projek.* Vir meer rakende studies oor weerloses en haweloses en hul diere, lees hier.

Meer oor:  Liefdadigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.