Daniel Friedman, ook bekend as die komediant Deep Fried Man, is afgedank as digitale nuusredakteur van The Citizen.
“Ná ’n interne tugverhoor met ’n onafhanklike arbeidsregpraktisyn as voorsitter, is daar aanbeveel dat The Citizen vir Friedman afdank,” lui ’n verklaring op die koerant se webwerf.
“Die voorsitter het tot die gevolgtrekking gekom dat Friedman se aanmerkings op sosiale media teen drie mense, sowel as die besonderhede oor die omstandighede en konteks van sy twiet, van wangedrag en onprofessionele gedrag getuig en sy stellings die publikasie in oneer bring.”

Daniel Friedman Foto: Twitter (@DanielMFriedman)
Friedman het voorheen kritiek ontlok oor ’n satiriese video wat hy in 2015 oor “wit volksmoord” gemaak het. Meer onlangs het hy, as Deep Fried Man, getwiet dat ondersteuners van die VF Plus almal rassiste is.
Hy was ook betrokke by ’n bekgeveg met die vlogger Willem Petzer, wat homself as ’n “Boer” op sy Twitter-profiel beskryf. Friedman het ook onthullende stories oor regse webwerwe geskryf.
In Maart 2019 was hy ’n paneellid op ’n geleentheid van die Ahmed Kathrada-stigting oor die toename in regse rassisme in Suid-Afrika en die uitwerking daarvan.
Charles Cilliers, digitale redakteur van The Citizen, wou nie enige verdere besonderhede oor Friedman se afdanking verskaf nie.
Friedman is die seun van die politieke ontleder en rubriekskrywer Steven Friedman. - News24