Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Theuns Jordaan nog in hospitaal

Dis ’n baie lang proses wanneer mens ’n beenmurgoorplanting moet ondergaan.

Theuns Jordaan is in die hospitaal opgeneem ná ’n beenmurgoorplanting. Foto: Deon Raath

So sê Theuns Jordaan by monde van sy woordvoerder, Ilza Roggeband, nadat die sanger en liedjieskrywer vroeër vandeesmaand so ’n oorplanting gekry het.

Die afgelope week was daar plasings op sosiale media wat na sy toestand as “kritiek” verwys het. Dié gerugte is vals, het Jordaan Woensdag in ’n verklaring gesê.

Teen Saterdagmiddag was Jordaan steeds in die hospitaal, maar nie in die waakeenheid soos wat die skindertonge in die kuberruim gegis het nie.

Roggeband sê sy toestand is steeds dieselfde as Woensdagoggend.

My dokter sê alles is normaal en te verwagte soos dit moet wees.

“Ek is op die oomblik in die hospitaal op skedule soos dit deur die mediese span beplan is. Alles gaan volgens plan sedert die beenmurgoorplanting wat op 5 Maart gedoen is,” lui Jordaan se verklaring.

“Dit is glad nie waar dat ek in hoësorg is of ooit was nie. My dokter sê alles is normaal en te verwagte soos dit moet wees.”

Leukemie is in September by Jordaan gediagnoseer. Hy het dadelik met chemoterapie begin.

Sy dokters het destyds bevestig hy het akute miëloïede leukemie – oftewel AML – onder lede. Hierdie soort kanker begin in die bloedvormende selle van die beenmurg.

Teen Desember het die sanger aan Netwerk24 gesê daar word nog na ’n geskikte beenmurgskenker gesoek. Sy prognose was baie goed.

Intussen het hy die beenmurgoorplanting gekry.

Volgens die Suid-Afrikaanse Beenmurgregister sal sommige pasiënte ’n geskikte skenker in hul familie hê, maar die meeste het hulp van ’n vreemdeling nodig – iemand met hul presiese tipe beenmurgweefsel.

Omdat daar duisende verskillende weefseltipes is, is die kans een uit 100 000 om ’n geskikte skenker te kry.

Dit is nie bekend of Jordaan ’n skenker plaaslik of in die buiteland gekry het nie.

Elke situasie is uniek, maar pasiënte sal in die meeste gevalle minstens 20 dae in die hospitaal deurbring ná die oorplanting. Jordaan het destyds gesê dit vat drie maande voordat ’n mens jou normale aktiwiteite kan hervat.

Nadat ’n pasiënt ontslaan is, sal die dokter die persoon se herstel as buitepasiënt monitor en kyk vir moontlike komplikasies.

Jordaan het mense bedank vir hul gebede en bemoedigende woorde.

Dit was veral lede van die Facebook-groep Theuns Jordaan Support Group/Ondersteuningsgroep wat boodskappe van hoop en suksesstories van kankerlyers gedeel het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.