Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Tiener uit gevaarlike see by Kleinmond gered
Ruan de Bruin en sy vrou, Tracey. RobertsFoto: Facebook

Al wat sy nuwe bruid kort ná hul troue vandeesmaand wou hê, was ’n dag van rus, ontspan en visvang – wat sy gekry het is dat haar man ’n held geword het deur ’n tienerseun uit die see te red.

Ruan de Bruin (29), wat byna 20 jaar se ervaring in die see het, het die onbekende tiener uit ’n rowwe see by Kleinmond gered.

De Bruin is eienaar van South African Surf Tours, ’n onderneming wat mense op branderplank-ervarings neem, en hy het basies in die water grootgeword.

De Bruin is sowat twee weke gelede met Tracey Roberts getroud en die twee sou Dinsdag vir die eerste keer alleen saam tyd op die strand deurbring.

De Bruin sê toe hy en sy vrou op die strand aankom, het hulle vier tieners en hul lyfplanke gesien. Hy kan dadelik sien wanneer mense nie voorbereid is vir die see nie.

Ruan de Bruin is ’n bekwame man in die see. Hier neem hy deel aan die Tand Invitational, een van die wêreld se voorste lyfplank kompetisies, in Paternoster. Foto: Simon Heale

“Daar is baie sterk strome, veral by Kleinmond se hoofstrand. Dit is een van die plekke met dié gevaarlikste strome.

“Ek het nog vir my vrou gesê iemand gaan in die moeilikheid kom.”

Sowat ’n halfuur later het hy ’n gil gehoor en geweet daar is fout. Drie van die tienerseuns wat hy vroeër gesien het, was toe reeds op die strand en een was diep in die see in sterk branders vasgekeer.

Hy het met een van die seuns se lyfplanke die see ingegaan.

Een van die vriende wou in die see ingaan, maar hy het hom vinnig gekeer. “Hulle was nie voorbereid of vertroud genoeg om in die see te gaan nie.”

Hy het dit oorweeg om ’n duikpak en paddavoete by sy huis, sowat 100 m weg, te gaan haal, maar dit sou waarskynlik te laat gewees het vir die jongman.

Toe hy sowat 200 m tot 300 m die see in by die seun aankom, was dié paniekbevange. “Hy het nie geweet watter kant toe nie. Hy het nie ’n idee gehad wat die see doen nie.

“Ek het hom gekalmeer en gesê hy moet vashou aan die lyfplank. As ’n golf kom, moet hy net vasklou en sy asem ophou.”

’n Kalm De Bruin het hom veilig op die strand gekry.

Intussen is die NSRI ook ontbied, maar die tiener was toe reeds veilig toe hulle daar aankom.

“Ek sê altyd ’n mens moet die see respekteer. Dis een van die belangrikste goed wat ek geleer het. Jy gaan jouself in die moeilikheid kry. Ek is bly ek kon hom help. Dit het amper lelik geëindig.”

Ruan de Bruin en sy vrou, Tracey Roberts, is twee weke gelede getroud en wou Dinsdag vir die eerste keer alleentyd deurbring toe De Bruin die jong man se lewe gered het. Foto: Simon Heale

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.