Twee tieners is dood en drie ander beseer in ’n tref-en-trap-ongeluk in die Madadeni-omgewing in Mpumalanga op Kersdag.
Die ongeluk het omstreeks 20:00 op die D2945-pad gebeur.
Volgens Joseph Mabuza, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid, het die voetgangers die pad in ’n besige gebied langs ’n kroeg oorgesteek toe die bestuurder van ’n VW Polo hulle tref.
Die bestuurder het weggejaag nadat hy die groep voetgangers raakgery het
“Die bestuurder het weggejaag nadat hy die groep voetgangers raakgery het,” sê Mabuza.
Die oorledenes is tussen 14 en 16 jaar oud.
Die drie oorlewendes is in die Tonga-hospitaal opgeneem.
Die slagoffers, wie se name nog nie bekend gemaak is nie, is almal inwoners van die omgewing.
Nog geen inhegtenisnemings is gemaak nie. Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.
Mabuza doen ’n beroep op ooggetuies om enige inligting, soos die voertuig se registrasienommer, by die Tonga-polisiekantoor aan te meld.