’n Tienerseun van Thabong in Welkom word steeds vermis nadat hy reeds op 21 Desember spoorloos verdwyn het.
Morena Gift Lentor (14), ’n leerling van die Teto High School in Thabong, is die betrokke dag omstreeks 06:45 weg by sy ouerhuis nadat sy ma gegeurde tabak vir ’n waterrookpyp (hooka) in sy broeksak gevind het terwyl sy wasgoed gewas het.
Sy het hom oor die tabak uitgevra, maar hy het ontken dat hy enigiets daarvan weet en is toe by die huis weg.
Hy is glo omstreeks 10:00 naby die Monatisa-winkel, wat nie ver van die Thotagauta High School is nie, gesien. Hy het egter nie weer huis toe gekom nie.
Hy was in ’n grys langmou-T-hemp, swart jeans en Nike-skoene geklee, het kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, gesê.
Enigiemand met inligting kan lt.kol. Kedibone Gopane, die ondersoekbeampte, op 082 336 7729 bel.

Morena Gift Lentor