Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Tifoon kom, ‘maar Japan ís goeie keuse as gasheerland’

Twee groepwedstryde in die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan is afgestel weens die bedreiging wat die supertifoon Hagibis inhou, maar Suid-Afrikaanse kommentators meen dit was nogtans die regte besluit om die toernooi daar aan te bied.

Die tifoon, wat die noordwestelike kuslyn Saterdag gaan tref, gaan na verwagting groot ontwrigting veroorsaak.

Die organiseerders het daarom twee van die laaste groepwedstryde, wat Saterdag sou plaasgevind het, gekanselleer.

’n Kennisgewing buite die stadion in Jokohama, waar Saterdag se Wêreldbeker-wedstryd tussen Frankryk en Engeland sou plaasgevind het. Foto: Getty Images

Die All Blacks en Italië, asook Engeland en Frankryk, kry nou twee punte elk.

Die wedstryde sou in onderskeidelik die stad Toyota en Jokohama plaasgevind het.

Saterdag se wedstryd tussen Ierland en Samoa (19:45) in Foekoeoka en Vrydagaand se wedstryd tussen Australië en Georgië (19:15) in Sjizoeoka gaan wel voort.

“Die besluit om wedstryde te kanselleer, is nie ligtelik geneem nie,” sê Wêreldrugby.

“Ons het alle opsies oorweeg, maar die publiek en spanne se veiligheid is ons eerste prioriteit.”

Indien die stormweer steeds Sondag ’n bedreiging inhou, kan dit beteken die stryd tussen Japan en Skotland in Jokohama bly ook in die slag. Dit sal beteken die gasheerland eindig boaan sy groep se puntelys en kom in die kwarteindstryd teen Suid-Afrika te staan.

Pieter Hendriks, lid van die seëvierende Bok-span van 1995, meen dit sal tragies wees as dié wedstryd ook afgestel word.

“Gelukkig het die wedstryde wat afgelas is nie ’n beduidende rol gespeel in die uiteindelike situasie nie. Ek hoop net die wedstryd tussen Japan en Skotland kan voortgaan, want dit gaan ’n helse wedstryd wees,” sê hy.

Hy meen wel die organiseerders kon seker gemaak het dat die gekanselleerde wedstryde op ’n ander dag gespeel word.

Sy destydse spanmaat Hennie le Roux sê weer daar kon dalk twee wedstryde op een dag in een van die binnenshuise sta­dions gespeel word. In die algemeen glo die kommentators wel die organiseerders verdien nie kritiek oor die keuse van Japan as gasheerland nie.

“Ek is baie in my skik met hoe Japan die toernooi organiseer en die belangstelling wat daar is,” sê Le Roux.

Carel du Plessis, voormalige Bok-vleuel en -breier, sê daar is ’n begeesterdheid in die toernooi wat aansteeklik is. “Dis fenomenaal om te sien hoe die toernooi aangebied word,” sê hy. “Die weer is uiteraard ’n faktor, maar dit doen nie afbreuk aan hoe goed dit vir wêreldrugby is om die spel te ontwikkel en uit te brei in ’n land soos Japan nie.”

Die voormalige Junior Springbok-afrigter Dawie Theron, wat in 2016 en 2017 die Docomo Red Hurricanes in Osaka afgerig het, sê by hom is daar geen twyfel dat die regte gasheer gekies is nie.

“Daar is twee goed van Japan wat jy moet onthou – daar is aardbewings én hulle word deur storms geteister. Japan het die infrastruktuur om die Wêreldbeker suksesvol aan te bied, so ek sien nie hoekom enige ander land oorweeg moes word nie.”

Meer oor:  Wêreldbeker-Rugbytoernooi  |  Japan  |  Tifoon  |  Wêreld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.