Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Titus vereer by gedenklesing
Prof. Nico Koopman, viserektor van sosiale impak, transformasie en personeel by die Universiteit Stellenbosch, Saterdag by die gedenklesing. Foto: Solly Lottering

Die sprekers by die eerste gedenklesing ter ere van dr. Danny Titus, taalman, historikus en meningsvormer, was dit Saterdag eens dat hy ’n spesiale man was wat ’n groot rol gespeel het om verandering in Suid-Afrika teweeg te bring.

Die lesing is by die Kunstekaap gehou op die eerste Saterdag ná Titus (63), voormalige direkteur van kultuur van die ATKV, se verjaarsdag op 19 Mei. Titus is verlede jaar in September oorlede.

Dit was ’n geleentheid waar sy rol in die vryheidstryd, sy akademiese loopbaan en invloed bespreek is deur die DAK Netwerk waarvan hy die stigter en ’n voorsitter was.

“Danny Titus was fyn in persoon, maar groot in sy insig en denke,” het Danie van Wyk, nou voorsitter van die DAK Netwerk, in sy lesing gesê.

Ander sprekers was dr. Franklin Sonn, oudambassadeur en sakeleier, dr. Lionel Louw, afgetrede predikant, en prof. Nico Koopman, viserektor van sosiale impak, transformasie en personeel by die Universiteit Stellenbosch (US).

Basil Kivido, voormalige burgemeester van die Wynlandstreek en voormalige LP, het ook gepraat oor die goeie vriend wat hy in Titus gehad het.

Ongeveer 75 mense het die geleentheid bygewoon.

Koopman het gesê Titus het “die lewe sáám met mekaar beklemtoon en beliggaam”.

“Die saam, die solidariteit, die ubuntu, die eenheid wat hy gesoek het, was eenheid in diversiteit, eenheid in nabyheid, eenheid in interaksie, eenheid ten spyte van historiese vyandskap, eenheid ten spyte van verdeeldheid,” het Koopman gesê.

“Danny het eenheid nagejaag ook te midde van botsende standpunte. Hy het nie eenheid in eendersheid omhels nie, maar eenheid in gesprek, eenheid in kontestasie, eenheid in saamstoei en saamsoek na die waarheid.

“Danny en sy geesgenote het eenheid omarm as tegelyk Hemelse geskenk en opdrag, eenheid as tegelyk gawe en opgawe. En baie belangrik, hierdie eenheid is veral eenheid op soek na versoening en geregtigheid.”

Hy het gesê die US en Titus, in sy hoedanigheid as senior amptenaar van die ATKV en later stigterslid en leier van die DAK Netwerk, het oor jare goed saamgewerk, veral met betrekking tot “transformatiewe sosiale impak deur die US Woordfees en een van die inisiatiewe daarvan, die Woorde Open Wêrelde-projek”.

Dr. Franklin Sonn, oudambassadeur en sakeleier, lewer ’n toespraak. Foto: Solly Lottering

“Ons was nog in gesprek met Danny oor die verbreding en verdieping van toekomstige samewerking, en ons hoop ons kan met organisasies soos die DAK Netwerk en die ATKV verder hieraan werk.

“Ons wil graag saam bou aan ’n meertalige Suid-Afrika, en spesifiek ? meertalige US. Ons wil graag saamwerk om te verseker dat die US se verbintenis tot toegang-met-sukses verder vervul word.

“Ons wil meer studente uit bruin en ander benadeelde gemeenskappe suksesvol toelaat, suksesvol laat afstudeer, en suksesvol laat dien en werk in die breër samelewing. Ons wil bou aan ’n meertaligheid wat as voertuig dien vir die verwesenliking van hierdie strewe.”

Hy het gesê die US wil graag “praat oor taalgeregtigheid ten opsigte van geïgnoreerde tale soos inheemse Khoi-tale”.

“Ons wil praat oor die onderbeklemtoonde geskiedenis en kennis van mense wat verontmenslik is en tot slawe gestempel is, mense soos hulle na wie die DAK Netwerk vernoem is – Doman-Nomoa, Autshumao en Krotoa – elkeen met ’n pynlike geskiedenis wat nou nog hard uitroep om helende restitusie.”

Koopman het gesê hierdie gesprekke sal in Junie met die DAK Netwerk se bestuur gevoer word.

Van Wyk het gesê hulle verwelkom die voorstel om te vergader en sê hul eise bly dieselfde as dié wat hulle op 9 April in die strate van Stellenbosch gestel het.

Die eise sluit in dat die US Afrikaans as ’n inheemse taal erken, dit “as ’n volwaardige akademiese taal aangewend word” terwyl die universiteit hom steeds verbind tot meertaligheid om die Wes-Kaap se bevolking te weerspieël”.

Verder eis hulle dat Afrikaanssprekende studente die geleentheid gegun moet word om minstens ’n eerste kwalifikasie in Afrikaans te behaal, terwyl die US ook om verskoning moet vra “vir die vernedering wat nie-wit studente in die verlede ervaar het”.

Laastens eis die groep ook dat die “kultuur van robuuste debatvoering” weer sy plek op die US-kampus moet inneem.

Van Wyk het gesê hy hoop die gesprek met die US volgende maand sal positief en konstruktief wees.

Meer oor:  Danny Titus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.