Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
'Toe ek bykom, het 'n man my hand vasgehou'

“Toe ek in die wrakstuk van my motor my bewussyn herwin, het daar ’n man my hand vasgehou. Dit is ’n absolute wonderwerk ek het oorleef.”

Dit was Woensdag die woorde van Rochelle Velkers (26), wat wonderbaarlik oorleef het toe ’n weghol-vragmotor van nêrens op die dak van haar motor te lande gekom het.

Paramedici het Dinsdagmiddag in Diazweg, Port Elizabeth, vir byna twee uur gespook om Velkers met meganiese toerusting uit die wrak te bevry.

Rochelle Velkers het ’n sleutelbeen in die ongeluk gebreek en sterk aan in die Life Mercantile-hospitaal. Foto: Lulama Zenzile

Sy het ’n sleutelbeen gebreek en moet Donderdag in die Life Mercantile-hospitaal ’n operasie ondergaan.

Die weldoener wat Velkers se hand vir sowat 45 minute vasgehou het, en haar belowe het dat hy haar nie sal verlaat nie, is Charlie Gillett (71), voorsitter van die Parsons Hill Primary School se beheerraad.

Die ongeluk het etlike meters van die skool af gebeur.

Die vragmotorbestuurder het sy voertuig op ’n heuwel voor die skool geparkeer. Hy het by die skool ingegaan om sy dogter te gaan haal en toe hy uitkom, het hy besef sy vragmotor het by die heuwel afgery en die ongeluk veroorsaak.

Die vragmotor wat begin rol het en op Rochelle Velkers se Opel Adam te lande gekom het. Foto’s: Verskaf

Velkers, ’n kandidaatprokureur by Rushmere Noach Prokureurs, het Dinsdag in haar etensuur huis toe gery om die middagete te gaan haal wat sy by die huis vergeet het.

Die ongeluk het gebeur terwyl sy op pad terug werk toe was.

“Ek onthou ek was in Diazweg en wou by Coninghamstraat opdraai. Ek dink ek het bande gesien, ek is nie nou mooi seker nie.

“Toe ek wakker word, het Charlie my hand vasgehou. Hy het verduidelik dat ek in ’n ongeluk was, en hy het my gerusgestel dat ek oukei gaan wees. Hy het gesê ek moet wakker bly en sy hand styf vasdruk.

“My motor se dak het geweldige druk op my kop geplaas terwyl reddingswerkers besig was om my te bevry. Ek was baie bang.”

Nooddienswerkers besig om Rochelle Velkers met behulp van meganiese toerusting uit haar motor te bevry. Foto: Verskaf

Gillett sê hy was by die skool vir ’n vergadering toe die ongeluk plaasvind. Hy het hom na die toneel gehaas om te gaan help.

“Ek het gesien sy (Velkers) is vasgevang in die wrak. Ek het uitgeroep om te hoor wat haar naam is en of sy my kon hoor.

“Ek het my hand by haar motor ingedruk en hare vasgehou. Toe sy wakker word, het ek deurentyd met haar gepraat om haar wakker te hou.”

Volgens Gillett was daar oomblikke dat hy gedink het sy gaan dit nie maak nie.

Velkers het in trane uitgebars toe Gillett Woensdag by haar hospitaalsaal instap om te kyk hoe dit met haar gaan.

Haar ouers, Michelle en Daniel Velkers, sê alle eer gaan aan God wat hul dogter se lewe gered het.

Hulle het Gillett vir sy welwillendheid bedank.

Die bestuurder van die vragmotor, wat nie sy naam wou gee nie, sê hy en sy dogter is nog in erge skok.

Hy sê hy weet steeds nie hoe die vragmotor beweeg het nie en dat hy baie dankbaar is Velkers het oorleef.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, sê ’n saak van roekelose en nalatige bestuur word ondersoek.

Paramedici stoot Rochelle Velkers op ’n draagbaar na ’n ambulans. Foto: Verskaf
Meer oor:  Port Elizabeth  |  Ongeluk  |  Paramedici  |  Reddingspoging  |  Nooddienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.