Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Toe moes hy kies: kinders of sy trok

’n Kaapse vragmotorbestuurder moes verlede week kies tussen sy vrag en die betogende kinders voor hom in die pad.

Pieter Plaatjies (54) het die veiligheid van die kinders gekies en met sy trok én sy vrag daarvoor betaal.

Pieter Plaatjies (54), ‘n vragmotorbestuurder van LM Vervoer in Caledon, moes verlede Donderdag tussen die veiligheid van betogende kinders en sy trok kies. Plaatjies het die kinders se veiligheid eerste gestel en met sy trok en sy vrag daarvoor betaal. Foto: Edrea du Toit

“Ek het geweet ek gaan nou ’n moeilike besluit moet neem, maar ek kon mos nie oor daardie kinders ry nie. Elkeen van hulle is iemand se kind,” sê Plaatjies.

“Ek was darem nie in die moeilikheid nie. My werkgewer se eerste vraag ná die tyd was of ek oukei is.”

Plaatjies, al meer as tien jaar lank een van die Caledonse vervoermaatskappy LM Vervoer se vragmotorbestuurders, was verlede Donderdag op die N2-snelweg onderweg van Caledon na Stanford met ’n padroller as vrag.

“Ek het by Botrivier gesien hier is moeilikheid op die N2 vorentoe en toe draai ek af om die betogers mis te ry.”

Op die Van der Stel-pas, ’n grondpad wat verby die dorp krul, was daar wéér moeilikheid.

' Die mense het nie ophou gooi nie.’

“Ek was nog bo teen die kop toe sien ek doer onder staan ’n bakkie. Ek het gedink dis die polisie, toe begin ek die afdraande ry,” sê Plaatjies.

“Skielik was daar mense in die bosse weerskante van die grondpad – kinders én grootmense – wat besig was om pad toe te hardloop. Ek was bang om teen die afdraande te stop en te reverse, so ek het aanhou ry. Die kinders het voor my in die pad gaan staan en begin klippe gooi toe ek naby genoeg was. Die grootmense het van die kante af gegooi.”

Plaatjies moes kies: die kinders se veiligheid of sy eie. Hy het die vragmotor tot stilstand gebring en probeer om in trurat terug teen die opdraande uit te ry.

“Teen daardie tyd was die vensters flenters. Die mense het nie ophou gooi nie, dit het klippe van alle kante af gereën,” sê Plaatjies.

Uiteindelik moes hy vlug.

Plaatjies se vragmotor nadat betogers dit aan die brand gesteek het.

“Ek het uitgespring en gehardloop. Die mense het aanhou gooi en die klippe se val was die hele tyd op my hakke, maar ek het darem nie seergekry nie.” Die betogers het sy selfoon, kos en komberse uit die vragmotor gesteel.

“Toe gooi hulle petrolbomme in my vragmotor en dit was die einde van die storie,” sê Plaatjies.

Die afgelope Vrydag is hy terug werk toe.

“Ek het vanoggend 03:00 met my kosblikkie en gewone klere begin loop werk toe. Naby die werk moes ek omdraai toe mense my gekeer het. Ek het weer so 06:30 in die pad geval,” het Plaatjies gesê.

Thinus Kershof, eienaar van LM Vervoer, sê Plaatjies het die regte ding gedoen, maar die skade is groot.

“Ek is bly Pieter het heel aan die anderkant uitgekom, maar die hele besigheid het ons R3 miljoen gekos,” sê Kershof.

Hugo Geldenhuys, woordvoerder van die Theewaterskloof-munisipaliteit, waaronder Botrivier val, sê die ongelukkigheid onder die gemeenskap spruit uit ’n voortslepende geveg oor bekostigbare behuising.

“Die gemeenskap woon al sedert die 1990’s in ’n informele nedersetting, New France. Hulle is deur die ou munisipaliteit daar gevestig. Die nedersetting is op ’n ou vullisstortingsterrein geleë. Die Theewaterskloof-munisipaliteit wou ’n nuwe, bekostigbare buurt daar bou, maar dié plan is laat vaar,” sê Geldenhuys.

Die koste om die ou vullis uit te grawe voordat daar gebou kan word, sou die munisipaliteit na raming R16 miljoen gekos het.

“Eskom het ook gesê hulle kan nie krag daar aanlê nie, want gasse wat in die ondergrondse vullis opbou, maak dit te gevaarlik.”

Die munisipaliteit sou verlede Woensdag met ’n gemeenskapskomitee daaroor praat.

“Toe ons opdaag, wou die komiteelede skielik nie praat nie. Dit is waar die humeure opgevlam het, wat daarna oorgespoel het na die snelweg en die Van der Stel-pas toe.”

Volgens kapt. FC van Wyk, ’n woordvoerder van die polisie in die Wes-Kaap, ondersoek die polisie sake van opsetlike saakbeskadiging en openbare geweld.

Meer oor:  Caledon  |  Betogings  |  Brandstigting  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.