Veiligheid en misdaadbekamping is beslis hoog op boere by Nampo in Bothaville se prioriteitslys.
Tactical Distributions, ’n maatskappy wat bybehore vir sport, jag en veiligheid verkoop, kon nie voorbly soos besoekers by sy stalletjie saamgedrom het nie.
Ken Naudé sê dit is die eerste jaar dat die maatskappy hier uitgestal het en hy wens hulle het ’n groter uitstalruimte gehad.
“Ons kon nie al die klante in die klein stalletjie help nie,” sê hy.
Boere het veral in koeëlvaste baadjies belanggestel, en pistole wat verfballe skiet, maar wat gerig is op selfverdediging, het ook baie goed verkoop.

Ken Naudé sê boere stel baie in koeëlvaste baadjies belang.Foto: Alet van der Walt
“Boere koop dit vir hul vroue en kinders,” sê Naudé.
“Dit is eintlik hartseer,” sê hy.
“Selfs koeëlvaste baadjies vir kinders is in aanvraag.”
Daar is nie lisensies vir die pistole nodig nie en dit is ideaal vir selfverdediging, sê hy.
’n Maatskappy wat hommeltuie verkoop, UVS, sê boere stel meer daarin belang om die hommeltuie vir misdaadvoorkoming te gebruik as vir landboudoeleindes.
Evan Alderton van UVS sê boere stel baie belang daarin om veral veediefstal en die diefstal van oeste met hommeltuie te voorkom.
Die hommeltuie word ook gebruik om misdadigers op te spoor.
Alderton sê sy maatskappy is baie tevrede met sy verkope vanjaar op die Nampo-oesdag.