Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Toks 14 dae op eiland gestrand weens virus

Die belangrikste les wat Toks van der Linde uit sy positiewe koronavirustoets geleer het, is dat niemand onaantasbaar is nie.

Toks van der Linde en sy vrou, Carol, in die Maledive.

Dit het hom ook die geleentheid gegee om oor sy lewe te besin.

Die voormalige Springbok-rugbyspeler was Maandag vir die derde dag in isolasie in die Maledive, waar hy en sy vrou, Carol, saam met vriende vir ’n paar dae vakansie gehou het.

Hy is net te dankbaar dat die siekte hom nie te ernstig platgetrek het nie. Behalwe vir ’n toe neus, keelseer en hoofpyn gaan dit onder die omstandighede goed met hom.

“Ek dink die Liewe Here gee jou ’n kans om jouself te vind, so ek is rustig,” sê Van der Linde.

“Alles gebeur met ’n doel. Dalk is dit net weer ’n wake-up call dat ek my lewe rustiger moet vat.”

Die vriendegroep het verlede Saterdag op die Baros-eiland aangekom.

Ná ’n week se vakansie het hulle Vrydag virustoetse gedoen om die volgende dag terug te keer huis toe.

Van der Linde het dieselfde aand die nuus ontvang dat hy positief vir die koronavirus getoets is en dat hy ’n rukkie langer op die eiland moet bly om te isoleer.

Toks van der Linde en sy vrou, Carol, in die Maledive.
Covid is ’n tawwe siekte. Jy moet net nooit dink jy is untouchable nie, want hy kan enige ou vat.

“Ek het groot geskrik en is nou nog geskok,” sê hy.

“Woensdag het my keel ’n bietjie seer begin raak en my neus is toe, maar jy is heeltyd in die son en in die see.”

Carol en hul vriende is negatief getoets.

“My vrou het na ’n ander kamer getrek, terwyl ek my in my eie kamer moet isoleer. Ek en my vrou is nou vir nog 14 dae op die eiland vasgevang,” sê Van der Linde.

“Al wat sleg is, is jy kan letterlik nie uit jou kamer gaan om iets te doen nie. Ek en my vrou bel nou maar vir mekaar uit die kamers uit, want ons mag mekaar nie sien nie.”

Die uitsig vanuit Toks van der Linde se kamer waar hy in isolasie is in Baros, Maledive.

Hy skerts hy is al moeg Netflix gekyk. Crocodile Dundee is een van die rolprente wat Van der Linde al in sy isolasietyd gekyk het.

Hoewel hy op die “pragtige” eiland “vasgekeer” is, mis hy dit om by sy vrou, sy dogter en hul hond in sy eie omgewing te wees.

Van der Linde loof die dokters op die Maledive vir hul ongelooflike en professionele diens. Hy word elke dag vir die virus getoets en sy vrou word daagliks vir enige simptome gemonitor.

Sy keelseer en toe neus is al baie beter.

“Covid is ’n tawwe siekte. Jy moet net nooit dink jy is untouchable nie, want hy kan enige ou vat. ’n Ou moet nou net gelowig wees en glo alles sal goed gaan,” sê hy.

“Dit is soos ’n skrum in die laaste vyf minute van ’n groot rugbytoets wat jy speel: Jy moet vasstaan. Dit is wat ons nou moet doen.”

Meer oor:  Toks Van Der Linde  |  Isolasie  |  Vakansie  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.