Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Tokyo se Erfenisfonds ‘’n bedrogspul’ – tesourie
Tokyo Sexwale Foto: City Press

“ ’n Bedrogspul.”

Dít is waarskynlik waarop die uitlatings van Tokyo Sexwale, sakeman en ANC-veteraan, Sondagaand in ’n opspraakwekkende onderhoud met eNCA oor ’n geheime “Erfenisfonds” van miljarde rande dui, meen die nasionale tesourie en die Reserwebank.

Dié uitlatings dat die geld van die “fonds” gesteel is, het daartoe gelei dat ’n burgerlike organisasie Maandag strafregtelike klagte teen pres. Cyril Ramaphosa by die polisie aanhangig gemaak het.

Die nasionale tesourie en die Reserwebank het Maandag ’n gesamentlike verklaring uitgereik nadat Sexwale in die onderhoud met dr. JJ Tabane in dié se Power to Truth-program onder meer beweer het dat hy (Sexwale) een van twee gemagtigdes in Suid-Afrika is van die sogenaamde “Erfenisfonds” van ’n baie “magtige familie” in die wêreld.

Hy het wou egter geen inligting oor dié familie bekend maak nie.

Volgens Sexwale is dié fonds “in die Reserwebank” en is dit in staat om miljarde rande te skenk vir gratis tersiêre onderrig, Covid-19-verligtingshulp en selfs om Ramaphosa se “blitstrein”-droom te verwesenlik.

“(Oudpres. Jacob) Zuma het in 2016 van die fonds geweet. (Pres.) Cyril (Ramaphosa) het ook daardie tyd daarvan geweet.”

Toe pogings egter aangewend is om dié geld “in die ekonomie” te kry, was daar, volgens Sexwale, “ ’n mate van weerstand”. Toe dié weerstand ondersoek is, is gevind “dat van die geld gesteel is”.

Volgens hom ondersoek die polisie dié diefstal.

(Oudpres. Jacob) Zuma het in 2016 van die fonds geweet. (Pres.) Cyril (Ramaphosa) het ook daardie tyd daarvan geweet.

Sexwale het gesê Tito Mboweni, minister van finansies, is van die bestaan van die fonds bewus.

Mboweni het Maandag getwiet dat Sexwale se uitlatings “onwaar en hartseer is en dit blyk dat hy die slagoffer van vele bedrogspulle is”.

Die nasionale tesourie en die Reserwebank het Maandag gesê hulle het oor die jare “baie” versoeke of beloftes van sulke “bedrogspulle” ontvang.

Hulle het vroeër ook korrespondensie van Sexwale en “baie ander” ontvang wat beweer het dat miljarde rande uit ’n fonds, waarna verwys word as die “White Spiritual Boy Trust” van ’n buitelandse skenker gesteel is.

“Verder word beweer dat daar duisende miljarde dollar in die sogenaamde fonds is en dat ’n sekere mnr. Goodwin Erin Webb, onder andere, sy gemagtigde verteenwoordiger in Suid-Afrika is.”

’n Ondersoek het egter nie die bestaan van so ’n fonds aan die lig gebring nie.

Sexwale is skriftelik ingelig dat dit ’n bedrogspul is.

Volgens die tesourie en die Reserwebank is Sexwale ook nie die eerste gesiene persoon wat namens ’n mnr. Webb of ’n onbekende skenker vir sulke fondse optree nie en kan sulke versoeke tot voor 2016 nagespeur word.

Sexwale word aangeraai om met “werklike” bewyse van so ’n fonds na vore te kom as hy die teendeel glo.

Intussen het die South African Unemployed Workers’ Union in ’n verklaring gesê dat hy Maandag ná Sexwale se “verdoemende bewerings” in die onderhoud oor die “verduistering van Covid-19-verligtingsgeld” strafregtelike klagte van korrupsie teen Ramaphosa by die Sandton-polisiekantoor ingedien het.

Dr. Oscar van Heerden, ’n politieke ontleder van die Mapungubwe-instituut, meen egter dat dié en ander strafregtelike klagte wat onlangs teen Ramaphosa en sy ondersteuners aanhangig gemaak is, deel van ’n “veelvoudige terugveg-komplot” deur Ace Magashule, beleërde ANC-sekretaris-generaal, en sy ondersteuners in die ANC is.

Die presidensie het Saterdag ook ontken dat Ramaphosa of enige van sy maatskappye ooit ’n tender vir die bou van ’n skool in die Vrystaat, Magashule se tuisprovinsie, ontvang het nadat strafregtelike klagte hieroor vroeër teen hom by die polisie ingedien is.

Van Heerden het gesê Magashule-ondersteuners se plan met die strafregtelike klagte is toe te sien dat Ramaphosa soos Magashule ook gedwing sal word om sy pos te ontruim.

Hy meen dit sal egter nie werk nie omdat die ANC se “opsystaan”-resolusie duidelik lui dat slegs diegene wat, soos Magashule, in ’n hof aangekla word, hul poste moet ontruim.

Meer oor:  Erfenisfonds  |  Bedrogspul  |  Tokyo Sexwale  |  Tesourie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.