’n Top-landloopatleet van die Oostelike Provinsie was Vrydagoggend buite sy skool in ’n motorongeluk en het ’n ernstige nekbesering en gebreekte arm opgedoen.

Morné van der Berg, ’n leerling van die Hoërskool Brandwag in Uitenhage, in die hospitaal na ’n motorbotsing Vrydag. Foto: Facebook
Netwerk24 Foto: Facebook
Een van Morné van der Berg se nekwerwels is gekraak. Dié gr. 9-leerling aan die Hoërskool Brandwag op Uitenhage is eers in die plaaslike provinsiale hospitaal opgeneem, maar hy is die naweek na die Livingstone-hospitaal in Port Elizabeth oorgeplaas.
Volgens Karen Pienaar, ’n woordvoerder van die skool, het die ongeluk Vrydagoggend voor skool op die hoek van Prellerweg en Albertynrylaan gebeur toe ’n voertuig vasgery het in die motor waarin Morné was.
Sy het gesê hy is ’n top-landloopatleet wat die Oostelike Provinsie al in die 800 m en 1 500 m verteenwoordig het.
Volgens haar sal die skool later Maandag ’n verklaring uitreik.
Dié voorval kom slegs enkele maande nadat dié skool se onderkaptein van die eerste rugbyspan, Dano Swart (18), ook met ’n ernstige nekbesering in die hospitaal opgeneem is.
Dano het op 7 Mei in ’n rugbywedstryd vir die provinsiale proewe die besering opgedoen wat hom met minimale gevoel in sy onderlyf gelaat het.
Ná weke se behandeling in ’n plaaslike hospitaal se waakeenheid is hy op 17 Julie na die Aurora-rehabilitasiehospitaal oorgeplaas.
Sanet Swart, Dano se ma, het Maandag gesê hulle glo dit gaan ’n goeie week van vordering vir Dano wees en die gemeenskap moet weet hul gebede word verhoor, want hulle kan byna daagliks ’n verbetering sien.
Luidens ’n inskrywing op ’n Facebook-ondersteuningsblad vir Dano sal hy Maandagoggend met ’n sagte ontbyt as oefenlopie begin.

Morné van der Berg, ’n gr. 9-leerling aan die Hoërskool Brandwag in Uitenhage, met medaljes wat hy vir landloop gewen het. Foto: Facebook
Netwerk24Foto: Facebook

Dano Swart, ’n matrikulant aan die Hoërskool Brandwag, wat in Mei met ’n nekbesering in ’n hospitaal opgeneem is. Foto: Facebook
Netwerk24 Foto: Facebook