Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
VS-paartjie byna dood toe tornado huis tref

’n Jong paartjie van die Glen-distrik buite Bloemfontein het Woensdag ter nouernood aan die dood ontkom toe ’n tornado hul plaashuis getref het.

Die naderende tornado wat Woensdag dele noord van Bloemfontein getref het. Foto: Storm Report SA/Cornelius Visser

Cara Venter (23), ’n kleuterskoolonderwyseres, het nie ’n enkele skrapie opgedoen nie nadat die plafon in die woonkamer van die plaashuis op Corneliasrus in die Glen-distrik op haar ingeval het.

Haar kêrel, JG Kirk (24), wat ’n bestuurder op die plaas is, is van sy voete afgeruk deur ’n stormsterkwind toe die tornado die plaas omstreeks 18:00 getref het.

“Behalwe vir ’n stywe nek en ‘bomskok’ is ek oukei. Die Here het ons mooi beskerm,” sê Venter.

Volgens haar het ’n boom buite die woonkamer omgeval net nadat die elektrisiteit afgegaan het.

“Ek het groot geskrik en om hulp geroep. Toe tuimel die plafon op my in.

“JG het my dadelik kom help en gesukkel om die plafon van my af te kry.”

Ook Robert, die wag op die plaas, het wonderbaarlik aan die dood ontkom nadat die tornado sy houthuis heeltemal verwoes het. Hy was by die beeskrale toe die tornado sy huis getref het. Sy bed en kruideniersware het meters ver van sy verpletterde houthuis gelê.

JG Kirk en Cara Venter in die woonkamer van hul plaashuis. Foto: Mlungisi Louw

Die nadraai van die tornado was Donderdagoggend steeds sigbaar met sinkplate wat kilometers ver verstrooid gelê het, 18 groot bome wat ontwortel is, ’n beskadigde Yaris-motor en bome wat die pad na die plaashuis versper het.

Heinings is ook beskadig, die hek na die plaas is heeltemal afgeruk en glasstukke, stukke van die plafon, dakbalke en bakstene het om die huis gelê.

Kirk sê reën en hael het die tornado voorafgegaan.

Die tornado se spoor van verwoesting deur die huis waarin JG Kirk en Cara Venter woon. Foto: Mlungisi Louw

“Daar was nie eers ’n wind voordat die tornado die plaas getref het nie. Enkele sekondes later was die huis se dak weggewaai en ’n stormwind het deur die vertrekke gewaai.”

Die slaapkamer is erg beskadig. “Gelukkig was ons nie in die slaapkamer nie, anders was ons altwee nou dood.”

Martin Wipplinger, eienaar van die plaas, sê dit gaan ’n tydjie neem om alles op te ruim.

“Dit is glad nie ’n dag se werk nie. Ons is dakloos en sonder krag.”

Michael Nethavhani, weervoorspeller van die Bloemfonteinse weerkantoor, het bevestig dat ’n tornado Woensdag noord van Bloemfontein voorgekom het.

Hy sê egter dat geen soortgelyke weerpatrone of erge storms in die nabye toekoms vir Bloemfontein, die buitewyke of vir die res van die provinsie voorspel word nie.

* Volgens ’n inskrywing op Storm Report SA se Facebook-blad het die tornado ’n sonneblomplantasie sowat 20 km noordoos van Bloemfontein in die Waterbron-distrik platgevee en sinkplate lê oral rond.

Die pad na die plaashuis op Corneliasrus is weens talle ontwortelde bome versper. Ook die plaashek is afgeruk. Foto: Mlungisi Louw
Die nadraai van ’n tornado. ’n Deel van die dak van die plaashuis op Corneliasrus is afgeruk. Foto: Mlungisi Louw
Die toneel nadat ’n tornado Woensdag die plaas Corneliasrus in die Glen-distrik getref het.Foto: Mlungisi Louw

Meer oor:  Bloemfontein  |  Tornado
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.