Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Tot 41% van SAPD-lede in Gauteng dop hul skiettoets

Die polisie het ’n yslike krisis op hande met beamptes wat onbevoeg is om vuurwapens te dra.

In Gauteng het 8 731 uit 21 206 beamptes (41%) wat getoets is hul jaarlikse skiettoets gedruip. Die syfer is bekend gemaak toe die polisie in Gauteng sy bedryfsplan vir 2019-’20 voorgelê het.

Die nasionale druipsyfer en dié van provinsies is reeds deur die VF Plus van Bheki Cele, minister van polisie, aangevra.

Verwarring tussen beleid en wetgewing

Die polisie se eie beleid maak die kwessie nog meer verwarrend. Beamptes se skietvernuf word jaarliks met drie vuurwapens getoets – ’n 9 mm-dienspistool, ’n R5-semi-outomatiese vuurwapen en ’n haelgeweer.

Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se nasionale opdrag 3 van 2019 moet ’n beampte die jaarlikse skiettoets in sy geheel slaag om sy skietpermit te behou.

Hoewel ’n polisiebeampte wat gedruip het onmiddellik die vuurwapen moet inhandig waarmee hy nie kon slaag nie, verloor hy nie dadelik sy bevoegdheidstatus in die geheel nie. As die beampte egter die daaropvolgende remediërende skiettoets druip, verloor hy sy permit. Hy moet dan al sy vuurwapens inhandig, luidens die polisie se opdrag.

Dit strook nie met die regulasies van die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000) nie, sê dr. Johan Burger, polisiekenner en navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS).

Ingevolge dié wet word iemand wat byvoorbeeld sy vuurwapen-skiettoets dop, maar die skiettoets vir ’n haelgeweer slaag, nie verplig om al sy vuurwapens in te handig nie.

“Die polisie se beleid oor watter beamptes nou bevoeg is om vuurwapens te dra, kan verwarring op stasievlak veroorsaak. Die nasionale opdrag moet beter bewoord word om groter duidelikheid oor die beleid te gee,” sê Burger.

Hofsake kan volg

Polisiebeamptes wat welwetend ’n vuurwapen sonder ’n permit gebruik, kan in sekere omstandighede vervolg word, sê dr. Llewelyn Curlewis, ’n strafregkenner.

Anders as private vuurwapeneienaars, kry polisiebeamptes nie ’n lisensie om te mag skiet nie. Polisiebeamptes kry ’n permit van sy stasiebevelvoerder, wat hom toelaat om ’n vuurwapen te hanteer.

Volgens Curlewis sal polisiebeamptes wat sonder permitte vuurwapens hanteer, nie noodwendig vervolg word nie. Dit hang af van die omstandighede waarin die vuurwapen gebruik word.

“As ’n polisiebeampte skiet wanneer sy lewe of ander se lewe in gevaar is, sal dit waarskynlik geregverdig kan word,” sê Curlewis.

“As ’n polisiebeampte egter welwetend sonder ’n permit ’n vuurwapen gebruik, kan hy in die moeilikheid beland. Veral as iemand in die proses doodgeskiet word. Die betrokke beampte sal dan siviel vervolg kan word,” sê hy.

‘Polisie in die gedrang’

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, wou by navraag hom nie veel oor die beleidskwessie uitlaat nie. Ook nie oor hoeveel van die Gautengse beamptes wat gedruip het bevoeg is om vuurwapens te dra nie.

“Hierdie is ’n bedryfskwessie wat die SAPD in ’n kompromitterende situasie kan plaas as te veel inligting bekend gemaak word. Wat belangrik is, is dat dit nie dienslewering raak nie,” sê hy.

Oud-lt.kol. Renate Barnard, deesdae bestuurder van spesiale projekte by Solidariteit, sê die “voorlopige druipsyfer” hoort kommer te wek.

“Jy sit met ’n situasie waar baie polisiebeamptes in die kantoor nie mag skiet nie. Die polisie se hulpbronne is reeds beperk en hy kan nie bekostig om beamptes te hê wat nie vuurwapens mag dra nie,” sê Barnard.

Sy sê die polisie moet sorg dat beamptes hul opleiding slaag om siviele eise af te weer.

In die 2018-’19-boekjaar is 4 500 siviele eise teen die polisie in Gauteng ingestel.

‘Te min ammunisie vir oefening’

Lt.genl. Elias Malewa, provinsiale polisiekommissaris, het by navraag gesê die swak uitslae kan toegeskryf word aan ’n tekort aan ammunisie vir skietoefeninge. Malewa het ’n vinger gewys na die staat se wapenvervaardiger, Denel. Hy het nie daaroor uitgewei nie.

Pamela Malinda, ’n woordvoerder van Denel, sê Denel se kontrak om ammunisie aan die polisie te verskaf, het tot ’n einde gekom.

“Ons het al ons kontraktuele verpligtinge nagekom,” sê sy.

Luidens die SAPD se webtuiste het ’n tender om ’n verskaffer van ammunisie oor ’n tydperk van drie jaar aan te stel op 24 Junie gesluit.

Naidoo het by navraag benadruk dat daar op nasionale vlak geen tekort aan ammunisie in die polisiediens is nie.

Probleme op stasievlak

“Ernstige vrae moet gevra word oor die beheer van vuurwapens op stasievlak,” sê Barnard.

Sedert 2013 het die polisie nasionaal 9,5 miljoen (9 555 426) patrone en 4 357 vuurwapens “verloor”.

Dié syfers blyk uit ’n antwoord van Cele op ’n parlementêre vraag van dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

In ’n mediaverklaring wat Vrydag uitgereik is, sê die VF Plus die party versoek dringend ’n vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee vir polisie.

“Die VF Plus sal eis dat koppe moet rol omdat hierdie ’n wandaad teen die mense van Suid-Afrika is.”

Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder oor polisie, sê dit is die SAPD se verantwoordelikheid om te sorg dat hy by alle tye genoeg ammunisie het, ook om mee te oefen sodat polisiebeamptes hul skiettoets kan slaag.

“Dit is belangrik dat polisiebeamptes hul skiettoetse slaag sodat die gemeenskap veilig kan voel,” sê hy.

Hy sê die DA gaan ook die kwessie in die parlement opper.

Nóg ’n tameletjie vir die polisie

Die nuwe tender vir ammunisie vir die SAPD het weens ’n fout sake bemoeilik.

Luidens die advertensie op die polisie se webtuiste moet die suksesvolle verskaffer onder meer “5,56 mm x 45 mm-kaliber- en Nato- (R5-vuurwapen) ammunisie” aan die polisie oor ’n tydperk van drie jaar verskaf.

In ’n kennisgewing wat in rooi skrif onder die advertensie aangebring is, word aansoekers wat voor 14 Junie – slegs tien dae voor die sluitingsdatum – ’n bod-dokument afgelaai het, gevra om ’n nuwe dokument af te laai.

Die vorige dokument het foutiewe inligting bevat, lui die kennisgewing.

“Die SAPD is nie verantwoordelik daarvoor as die foutiewe bod-dokument voor die sluitingsdatum ingedien word nie,” lui die kennisgewing.

Denel het tot onlangs ammunisie aan die polisie verskaf.

Meer oor:  Gauteng  |  41%  |  Onbevoeg  |  Polisie  |  Sapd-Lede  |  Vuurwapens  |  Druip  |  Skiettoets
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.