Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Tot detensieklasse toe weens bendegeweld
Brandon en Samantha Daniëls, Zinadine Pelton se ouers, saam met hul twee jongste kinders, Zaidene (8) en Zeah (2) regs voor.Foto: Shantel Moses

Honderde mense het Dinsdag die begrafnisdiens van ’n tienerseun van Hanover Park bygewoon wat verlede week in ’n bendeskietery deur ’n dwaalkoeël in die sy getref is.

Zinadine Pelton (14), ’n gr. 8-leerling van die Hoërskool Groenvlei, se begrafnisdiens is by die Portia Primary School in Hanover Park gehou, waar hy op laerskool was.

Hy is verlede Dinsdag in die Hanover Park-daghospitaal dood nadat hy die middag ná skool op pad huis toe raakgeskiet is.

Volgens leerlinge wat saam met hom huis toe gestap het, het lede van die Ghetto-bende op fietse verby hulle gery. Lede van die Pitbulls-bende, wat in die omgewing in die straat gestaan het, het op die Ghetto-bende geskiet. Zinadine is in die sy getref.

Sy dood het verskeie gemeenskapsorganisasies in die gebied bymekaar gebring wat die gemeenskap gemobiliseer het om na ’n verdagte se huis te gaan.

Brandon Daniëls, Zinadine se pa, sê inwoners het na die “vyand” (’n bende aan die anderkant van die gebied waar hulle woon) se gebied gestap en ’n man wat glo aan die skietery deelgeneem het vir ondervraging aangekeer.

“Ek het nog nooit gehoor dat mense hul lewe so in gevaar stel vir enige ander slagoffer nie,” sê hy.

Past. Craven Engel, wat die diens gelei het, sê:

Zinadine Pelton (14) is doodgeskiet.

“Nieregeringsorganisasies, die regering, politieke partye, die kerk en die gemeenskappe moet saamspan om ’n oplossing vir die bendeprobleem te kry. Alleen gaan ons dit nie regkry nie. Saam kan ons die stryd wen.”

Hy het die dood van ’n onskuldige kind as verkeerd bestempel.

Kevin Velensky, hoof van die Portia Primary School, was een van die sprekers by die begrafnis.

“Hy was een van die uitblinkers by die skool en ’n kranige sportman. As ’n mens kyk na al die mense wat sy begrafnis bywoon, kan ’n mens sien dat hy geliefd was onder die leerlinge.”

Hy sê nadat skietvoorvalle die laaste tyd in Hanover Park toegeneem het, moes die skool al sy naskoolse programme, insluitend detensieklasse, staak.

“Ouers is bekommerd oor hul kinders se veiligheid.”

Marius Meyer, voorsitter van die skool se beheerliggaam, sê alle leerlinge moet oorlewingsklasse kry.

“Ek wil dié voorstel aan die Wes-Kaapse onderwysdepartement se Veiliger Skole-projek maak. Leerlinge moet geleer word om onmiddellik plat te val as daar geskiet word. Te veel onskuldige kinders word raakgeskiet.”

Onderwysers van die Hoërskool Groenvlei sê leerlinge by die skool is steeds getraumatiseerd.

“Daar word baie in Hanover Park geskiet, maar wanneer die slagoffer een van die leerlinge is, word hulle meer getraumatiseerd.”

* Dylan Pelton (17), Zinadine se neef en ook ’n leerling, is op 2 Desember in Bonteheuwel doodgeskiet toe hy huis toe gestap het. Niemand is nog in verband met dié moord aangekeer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.