Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Toue by kantore nou onder beheer, sê Sassa in W-Kaap

Die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) in die Wes-Kaap sê hy het die toue by sy kantore onder beheer en is vol vertroue dat hy die agterstand met die uitbetaling van tydelike toelae aan gestremde mense gaan uitwis.

Van die meer as 50 000 van dié toelae wat einde verlede jaar in die provinsie verstryk het, is 16 569 begunstigdes al deur dokters ondersoek en moet 31 458 nog ondersoek word. ’n Elektroniese stelsel vir ondersoeke en die nagaan van aansoekers se toestand word egter ingestel en beloof om die agterstand vinniger uit te wis.

Sassa het Dinsdag ’n voorlegging oor die vordering met die aansoeke vir die tydelike toelaes aan die Wes-Kaapse wetgewer gelewer.

Sibusiso Nhlangothi, Sassa-hoofbestuurder, het herhaal dat van die 214 000 tydelike gestremdheidstoelae wat landwyd verval het, is 52 323 in die Wes-Kaap en 64% in die Kaapstad-metropool.

37 171 aansoekers het al afsprake om ondersoek te word.

Hy het aan die staande komitee oor maatskaplike ontwikkeling verduidelik dat Sassa-kantore nie teen hul volle kapasiteit werk nie weens beamptes wat van die huis af werk en beperkte ruimte in kantore.

Mense staan tou voor die Sassa-kantoor in Bellville verlede maand met die besoek van die minister van maatskaplike ontwikkeling. Foto: Jaco Marais

Verder moet die agentskap sy beperkte hulpbronne verdeel tussen die agterstand met die tydelike toelaes en dienste aan kliënte vir ander toelaes, sê Nhlangothi.

Kantore in die metropool is sedert Januarie “oorstroom” met aansoekers vir die tydelike gestremdheidstoelae, terwyl die kantore in Athlone, Bellville, Khayelitsha, Gugulethu, Mitchells Plain en Eersterivier “altyd as brandpunte beskou word”.

“Hoewel ons steeds toue by ons kantore sien, is ons bly om aan te meld dat dit nou beheerbaar is en dit nie nodig is om afsprake te maak nie omdat kliënte met hul eerste besoek aan sommige kantore reeds bedien word.”

Volgens Nhlangothi het die Kaapstad-metroraad 64 dokters beskikbaar gemaak om virtuele ondersoeke uit te voer en is ’n aanvoorprojek verlede week aangebied waarin 300 aansoeke deur drie dokters binne twee dae voltooi is.

Dit kom neer op 50 ondersoeke per dokter per dag en sal na verwagting dokters in staat stel om elk 250 virtuele ondersoeke per week af te handel, luidens die voorlegging.

Dié stelsel is aan die begin van die maand oor die metropool heen ingestel en maak dit onnodig vir die aansoeker om die dokter self te besoek, behalwe in gevalle waar hulle onvoldoende inligting in hul mediese rekords het.

“Dit is waarom die oorblywende getalle nie so ’n groot bekommernis is nie namate ons nou die virtuele ondersoeke doen.”

Sassa het in Januarie ’n tienpuntplan aan die komitee gegee om die agterstand met die tydelike toelaes te hanteer en het toe beloof dat dit teen 31 Maart uitgewis sal word.

Nhlangothi sê Sassa het sowat 90% van dié plan al in werking gestel en is “baie tevrede met die vordering”.

Dit sluit in bykomende personeel en vrywilligers wat aangewys is om die toue te bestuur van 06:00 af, alle aansoekers wat ’n afspraak vir ’n mediese ondersoek en aansoekvorms ontvang, en kantore in Kaapstad wat persele gekry het met toegewyde spanne om aansoekers vyf dae ’n week te bedien.

Werksure en kantoorure is ook verleng, terwyl die provinsiale departement van gesondheid genader is om bykomende dokters en ruimte vir dokters wat Sassa gekontrakteer het, te verskaf.

Sharna Fernandez, LUR vir maatskaplike ontwikkeling. Foto: Malherbe Nienaber

Sassa het vroeër verduidelik dat die tydelike gestremdheidstoelaes vir mense is wat weens gestremdheid of ’n mediese toestand nie kan werk nie.

Dié toelae verval gewoonlik ná ses tot 12 maande, maar is verleng tot einde verlede jaar nadat dit aanvanklik in Februarie 2020 verval het.

In sy voorlegging in Januarie het Sassa gesê die verlenging het sowat R1,8 miljard gekos en daar is nie genoeg geld oor om hierdie en ander begunstigdes te dek nie.

Dit het dus vereis dat nuwe assesserings gedoen word sodat slegs mense wat kwalifiseer die toelae ontvang.

Sharna Fernandez, LUR vir maatskaplike ontwikkeling, het Dinsdag gesê sy het ook met Sassa oor die agterstand vergader en haar kommer uitgespreek dat die keerdatum aan die maandeinde wink.

“Hoewel duisende kwesbare mense se ondersoeke steeds gedoen moet word, het Sassa herhaal dat alle begunstigdes van die tydelike toelae voor 31 Maart nagegaan sal word.”

Intussen het die nasionale departement van maatskaplike ontwikkeling sy voorskrifte oor die tydelike gestremdheidstoelaes verlede maand gewysig sodat die toelaes aan mense wat vanjaar 60 jaar oud word en tussen 31 Desember en 31 Maart verval het of gaan verval, betaal moet word totdat hulle 60 jaar oud word. Daarna kwalifiseer hulle vir ’n ander toelae.

In sommige ander gevalle moet die toelaes nog vir drie maande betaal word nadat Sassa ’n afspraak vir herassessering gemaak het, of tot met 31 Maart 2022.

• Kyk die volle komiteesitting hier.

Meer oor:  Sassa  |  Kantore  |  Beheer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.