Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Touwsrivier: Petrolbom-aanvallers steeds soek

Niemand is al in hegtenis geneem in verband met ’n petrolbomaanval vroeër vandeesmaand naby Touwsrivier nie. As gevolg hiervan het ’n vragmotorbestuurder later in die hospitaal aan sy wonde beswyk het.

Die polisie in die Wes-Kaap het Sondag bevestig hy ondersoek steeds ’n moordsaak waarby vermoedelik sewe aanvallers wat twee vragmotors op die N1 aan die brand gesteek het, glo betrokke was.

Bernard Groenewald (49), mede-eienaar van Huddlestone Logistics, is Vrydag in die Worcester Mediclinic dood nadat hy en sy vrou se swaer op 2 Junie in hul vragmotors met petrolbomme bestook is en hy 60% tot 70% brandwonde opgedoen het.

Sy roudiens word Vrydag om 15:00 by die NG kerk Mosselbaai-Suid gehou.

Groenewald en Jan Jansen (59) het in hul vragmotors langs die N1 geslaap nadat hulle vragte in Saldanhabaai opgelaai het en sou later die volgende oggend verder na Johannesburg gery het.

Kort ná 01:00 is hul vragmotors met petrolbomme bestook. Jansen kon wegtrek met betreklik min skade aan sy vragmotor.

Die polisie het die dag van die aanval bevestig dat ’n saak van kwaadwillige saakbeskadiging ook ondersoek word.

Bernard GroenewaldFoto: Facebook

Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, het Sondag gesê niemand is in hegtenis geneem nie en speurders volg alle leidrade op.

Ciska en Bernard Groenewald.Foto: Facebook

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Saterdag ook sy medelye aan Groenewald se vriende en familie betuig en ’n beroep op wetstoepassers gedoen om alles in die stryd te werp om die brandstigters te vang.

Ayanda Allie Paine, ministeriële woordvoerder, het die voorval as ’n “sinnelose moord” beskryf. “ ’n Onskuldige man, ’n eggenoot en ’n bydraende lid van ons samelewing is wreed aangeval. Ons wil landsburgers verseker dat die regering alles in sy vermoë doen om kalmte in die vragmotorbedryf te herstel en om te verseker dat so iets nooit weer gebeur nie.”

Groenewald het Huddlestone Transport in die Paarl saam met sy vrou, Ciska, bedryf en is oorspronklik van Mosselbaai.

Jansen, Ciska se swaer, het aan Rapport gesê dat hy en Bernard net ná sonsopkoms uit die Paarl gery het om staal te gaan oplaai en sou dit teen die oggend van 3 Junie in Gauteng gaan aflaai het.

Hulle het by ’n vulstasie in Touwsrivier afgetrek vir koffie en 8 km buite die dorp gaan stop by ’n plek waar vragmotors dikwels oorstaan om vir ’n uur of twee te slaap.

Teen 01:18 het hy gehoor dat sy linkerkantste ruit uitgegooi is en kon hy petrol ruik, terwyl ’n halfliterbottel met ’n brandende lap op sy sitplek geval het.

Fikile Mbalula, minister van vervoer.Foto: Felix Dlangamandla

Die aanvallers het geroep dat hy uit die kajuit moet klim, maar Jansen kon dit regkry om weg te trek.

Hy het toe gesien dat Bernard se kajuit ook brand, terwyl hy voor die vragmotor gestaan het sonder sy bril en hemp, “sopnat van die petrol”.

Sy passasiersdeur kon egter nie oop nie, met dié dat die sitplek en deur aan die brand was.

Jansen het ’n aankomende voertuig voorgekeer om Bernard solank te help en teruggekeer toe hy hoor dat Bernard oorleef het.

Hy sê dat Bernard in die poging om sy brandende hemp uit te trek, uit die vragmotor geval en sy enkel gebreek het.

Die aanval by Touwsrivier was op dieselfde dag waar minstens 16 ander vragmotors oor die land heen aan die brand gesteek en aangeval is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.