Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Traanmerke, deurmekaar hare, maar Amy’Leigh is veilig
Amy’Leigh de Jager

Amy’Leigh de Jager (6) se haartjies was deurmekaar en daar was traanmerke oor haar wange. Sy was duidelik moeg.

Maar sy was fisiek ongedeerd.

“Sy is terug. Sy lewe. Ons het in trane uitgebars toe ons die mense met haar sien aankom. Toe haar pa haar vir my gee om vas te hou – jy verstaan nie – dis . . . dis . . . dis beter as om die Lotto te wen,” sê Shawn Delport, ’n familievriend van die De Jagers.

Hy was sedert die meisie Maandag tussen omstreeks 07:30 en 07:40 verdwyn het voor die Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark, waar sy ’n gr. R-leerling is, tot met haar terugkeer om sowat 02:00 Dinsdagoggend saam met haar ouers.

“Ek is gebel net nadat Amy’Leigh ontvoer is. Ek het die inligting help versprei en na van my kontakte gestuur. Ons het ook almal by die skool bymekaar gekom en is later saam na die polisiestasie,” sê hy.

Volgens sy inligting het twee mense die kind Dinsdag in die vroeë oggendure naby die Shakespeare Inn in Vanderbijlpark afgelaai.

“Soos ek verstaan, het Amy’Leigh in die straat begin skree. Twee ander mense – ’n man en ’n vrou – het na haar gekom en haar naam gevra.

“Ek dink weens al die blootstelling het hulle besef wie sy is en haar na die polisiestasie gebring, wat so 3 km ver is,” sê Delport.

Amy’Leigh se pa, Wynand, was buite die polisiestasie toe hy die mense met sy dogtertjie sien.

Hy het haar eerste in sy arms gehad.

Kort daarna het Delport stralend op sy Facebook-blad die nuus gedeel waarvoor almal gehoop en gebid het:

“Amy’Leigh has been found, just after 02:00 this morning!!! She is safe with her Mom and Dad.

“Confirmed – because I had her in my arms!!!”

Sy is kort daarna na ’n hospitaal gebring vir ’n mediese ondersoek, ’n standaardprosedure in sulke gevalle volgens die polisie, en is toe saam met haar ouers huis toe.

Amy’Leigh se oupa Christo de Jager nadat sy kleinkind veilig by die huis was. Foto: Felix Dlangamandla

Die meisie se oupa Christo de Jager het later Dinsdag haar terugkeer as ’n “bestiering van bo” beskryf.

Die kind is Maandagoggend deur vier mans in ’n Toyota Fortuner uit haar ma, Angeline, se hande geruk en in die verdagte voertuig gedwing.

Willem Muller van die Vaal Response Team (VRU) sê die eerste oproep wat hulle gekry het, was vir die aanmelding van ’n motorkaping. Die vrees was dat Amy’Leigh saam met die “gekaapte voertuig” geneem is.

Die polisie se plaaslike taakspan en nog ’n reaksiegroep is ontbied. Toe hulle egter met Angeline begin praat, het hulle besef dit was ’n ontvoering.

Wynand, die polisie en verskeie inwoners het kort daarna by die skool saamgekom in ’n poging om die ontvoerders se spoor te vind.

Dit was glo ook hier dat Wynand een van verskeie oproepe gekry het waarin ’n losprys van R2 miljoen vir sy kind se veilige terugkeer geëis is.

Luidens bronne het ’n groep “baie ryk” sakemense wat ook op die toneel was, toe aangebied om te help om daardie bedrag te versamel, sou dit nodig wees.

Amy’Leigh is egter teruggevind sonder dat die losprys betaal is.

Sommige mense vermoed dit is omdat die enorme openbare aandag wat die voorval gekry het, asook die hordes polisielede van talle eenhede wat onverpoos help soek het, dinge “te warm” vir die ontvoerders gemaak en die druk te veel geraak het.

“Sy is nie eens geneem uit die omgewing waar sy ontvoer is nie,” het een bron gesê.

Sy is nie eens geneem uit die omgewing waar sy ontvoer is nie.

Brig. Vishnu Naidoo, polisiewoordvoerder, sê die Valke en die eenhede vir misdaadintelligensie en gesinsgeweld, asook kinderbeskerming het gehelp soek na die meisie sedert die “beweerde” ontvoering.

Hy verduidelik dat enige misdaad “ ’n beweerde” misdaad is totdat die feite bewys is.

Hy het wel bevestig dat Amy'Leigh in Vanderbijlpark gevind is, maar wou nie uitwei oor wie haar gekry het of presies waar sy gevind is nie.

“Haar verdwyning en skielike herverskyning word ondersoek en die saak is in ’n baie sensitiewe stadium. Ons wil nie uitwei oor die besonderhede nie,” sê Naidoo.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar die polisie volg alle leidrade en inligting op, voeg hy by.


Intussen het die skool Maandagaand ’n noodvergadering met die ouers van leerlinge gehou oor die voorval.

“Ons het nou alles is ons vermoë gedoen om die skool te beveilig sover ons kan,” het Juanita Louw, adjunkhoof van die Laerskool Kollegepark, gesê.

“Die beheerliggaam het gereël vir ekstra veiligheid dié week en die week wat kom. Ons wil dit ook net duidelik stel dat ons kinders op ons skoolterrein regtig veilig is.”

Die beheerliggaam het gereël vir ekstra veiligheid dié week en die week wat kom. Ons wil dit ook net duidelik stel dat ons kinders op ons skoolterrein regtig veilig is.

Een van die ouers wat die vergadering bygewoon het en op voorwaarde van anonimiteit met Netwerk24 gepraat het, sê ouers het voorstelle gegee oor wat gedoen kan word om hul kinders se veiligheid te verseker.

Dit sluit onder meer in dat ouers ’n rukkie wag nadat hulle hul kinders by die skool afgelaai het en nie dadelik ry nie; dat ’n kamerastelsel by die gr. R-hekkie opgesit word; en dat daar deeglik gekontroleer word wie die kinders by die naskoolsentrum oorkant die skool oplaai.

Dinsdagoggend was die hek na die gr. R-klasse versier met pienk ballonne vir Amy’Leigh.

Charlene Visser, ’n ouer van twee leerlinge in die skool, sê sy was Dinsdagoggend bang om haar kinders skool toe te neem.

“Die sonsopkoms en die wete dat ek my kinders binnekort moet skool toe vat, het vrees gebring,” sê die ma van ’n seun in gr. 2-seun en ’n dogter in gr. R.

Sy sê die skool doen alles van sy kant af om die leerlinge se veiligheid te verseker.

“By elke hek het twee of drie onderwysers gestaan wat verseker het dat die kinders veilig instap. Daar is ook veiligheidsvoertuie in die straat,” sê Visser.

“Elke ouer stap hand-aan-hand met hul kind na die klas.”

Sy sê die skoolkinders was egter baie opgewonde toe hulle Dinsdagoggend die goeie nuus by hul ouers hoor dat Amy’Leigh veilig gevind is.

In ’n video wat die skool op Facebook gedeel het, het die kinders uitgeskree “Yes, yes, dankie Jesus!” en almal het hul hande opgesteek toe gevra is wie almal vir Amy’Leigh gebid het.

amy'leigh
Kaart deur Theuns Kruger

Meer oor:  Amy'leigh  |  Ontvoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.