Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Terugslag vir rugbyster wat in skietvoorval beseer is

Gert Roets (23), die jong rugbyspeler wat verlede naweek in ’n skietvoorval beseer is, het Vrydag ’n tragiese terugslag gehad toe sy been geamputeer is om sy lewe te red.

“Dit was al manier om sy lewe te red. Ons het gevra vir ’n tweede opinie, maar sy been moes ongelukkig geamputeer word,” het Jaco Lombard, die familiewoordvoerder, Vrydagaand gesê.

Gert Roets (23) is tans in ’n geïnduseerde koma in die Tembisa-hospitaal. Foto: Facebook

Volgens Lombard het Roets – of Gertjie soos hy beter bekend staan – se liggaam die weefsel verwerp wat gebruik is om ’n beskadigde aar in sy been te heg.

“Dit het onder meer baie druk op sy niere geplaas. Die amputasie was vanmiddag (Vrydag) net ná 14:00 verby, en sy familie kon hom so teen 15:00 besoek.”

Roets (regs) is ’n belowende rugbyspeler vir ’n plaaslike klub in Kempton Park. Foto: Facebook
’n Facebook-blad, genaamd “Help vir Gertjie”, is begin om geld vir Roets se mediese kostes in te samel. Foto: Facebook

Lombard sê Roets is tans in ’n geïnduseerde koma in die waakeenheid van die Tembisa-hospitaal.

“Hy het hoë bloeddruk weens sy wond. Die wond is nog oop. Die dokters sal Sondag besluit of hy van die ventilator kan afkom om self asem te haal.”

Aanvallers het Roets, ’n rugbyspeler vir die Wolwe-rugbyklub in Kempton Park, Saterdag omstreeks 04:00 in sy heup geskiet. Hy en Devan Kruger (23), wat saam met hom vir dié span speel, het van Kruger se huis in Van Riebeeckpark in Kempton Park saam met ’n vriendin na haar huis geloop.

Dit is nie duidelik wat die rede vir die aanval was nie omdat die aanvallers gevlug het sonder om enigiets te roof, sê Lombard.

Die koeël is van sy heup deur sy been en het sy hoofslagaar afgeskiet. Hy is na die Tembisa-hospitaal geneem waar hy dieselfde dag ’n noodoperasie van byna agt uur lank ondergaan het.

Lombard sê dit gaan nie goed met Roets se ouers, Yolanda en Louwtjie, nie en dat hulle baie bekommerd oor hul seun is.

Intussen is ’n Facebook-blad, genaamd “Help vir Gertjie”, begin om geld in te samel om die jong man met sy mediese kostes te help. Dié blad het reeds meer as 1 600 lede.

Die Afrikaanse sanger Brendan Peyper het ook ingespring en ’n video op Facebook gelaai om mense in te lig van ’n konsert wat gereël is om geld vir Roets in te samel.

“Ek voel die Here het die man oor my pad gestuur vir ’n rede en ek wil hê julle moet my help sodat ons hom kan help. Ons hou op 20 April om 18:30 saam met die Boeremusiekgilde van Witwatersrand vir Gert ’n geldinsameling in die Laerskool Birchleigh in Kempton Park. Maak asseblief julle harte oop vir die man, hy het groot drome en ons wil hê dit moet waar word,” skryf hy.

Meer oor:  Gert Roets  |  Rugby  |  Skietery  |  Amputasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.