Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Treinaanval skerp veroordeel

Die aanval waarin nege mans Vrydagaand op ’n trein van Metrorail tussen die Eersterivier- en Lynedoch-stasies in die Wes-Kaap beroof en uit die bewegende trein gegooi is, is skerp veroordeel.

Een van die slagoffers, ’n 35-jarige man, is dood.

Die aanval is deur die Passasierspooragentskap van Suid Afrika (Prasa) veroordeel as voorbedag deur ’n “groep mense wat vasbeslote is om dié openbare vervoerstelsel tot stilstand te ruk”.

Een van die slagoffers word Vrydagaand by ’n vulstasie behandel. Foto: Facebook

Prasa weier om die aanval wat tot die dood van een man gelei het, as “bloot ’n rooftog te beskryf”, sê Khanyisile Kweyama, voorsitter van Prasa.

“Dit was ’n voorbedagte aanval op passasiers deur ’n bende mense wat doelgerig pyn wou veroorsaak vir die slagoffers en hul families.”

Intussen het Donald Grant, Wes-Kaapse LUR vir vervoer en openbare werke, in ’n verklaring gesê hy is teleurgesteld daarin dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens nie die vermoë het om die voorvalle van misdaad op die treine suksesvol te ondersoek en te verseker dat verdagtes agter tralies kom nie.

Grant sê misdaad in die treindienste word wyd gepleeg en word nie gestraf nie, grootliks weens die polisie se tekortkominge.

Volgens Grant het hy en Dan Plato, die LUR vir gemeenskapsveiligheid, op 31 Augustus die polisie gevra om misdade gekoppel aan treindienste te prioritiseer.

Metrorail het oor die naweek gesê hy sal die gesinne van die slagoffers besoek om te hoor watter bystand gebied kan word.

Die polisie het vroeër bevestig die slagoffers is gesteek voordat hulle uit die trein gegooi is.

Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer en stedelike ontwikkeling in Kaapstad, sê hy het ’n brief aan Blade Nzimande, minister van Vervoer, gestuur om dringend tussenbeide te tree en te verseker dat Prasa ’n bedrag van R16 miljoen betaal wat nodig is om ’n eenheid te versterk om treinpendelaars te beveilig.

Herron sê hy het gevra dat Nzimande ’n noodtoestand afkondig ten opsigte van treindienste in die Wes-Kaap.

’n Boer buite Stellenbosch het die Vrydagaand afgekom op ’n bebloede man wat naby die treinspoor in Lynedoch voor sy motor ingestap het, berig Christiaan du Plessis.

Hy was ’n Malawiër en een van die slagoffers en het glo kort voor die voorval met sy skof klaargemaak.

’n Saak van moord word ondersoek.

  • Prasa vra dat enigiemand met inligting die Stellenbosch-polisie by 021 809 9140 moet kontak.
Meer oor:  Metrorail  |  Prasa  |  Donald Grant  |  Khanyisile Kweyama  |  Treinaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.