Die Metrorail-treindienste tussen Pretoria en Johannesburg is ten volle herstel nadat dit Woensdagoggend weens kabeldiefstal erg ontwrig is.
Enkele ure nadat die kraglyne by Irene in die vroeë oggendure gesteel is, werk die treindienste weer teen volle kapasiteit, sê Lillian Mofokeng, woordvoerder van Metrorail.
Die treindienste sal vir die namiddag-spitstyd sonder enige vertragings weer normaal funksioneer.
Mofokeng sê daar is ’n groeiende element van misdaad op sy spoornetwerk en Metrorail veroordeel dit ten sterkste.
Daar word ondersoek ingestel hoe die misdaad beter bekamp kan word.
Metrorail se bestuur bedank die pendelaars vir hul ondersteuning en geduld terwyl Metrorail se tegnici hard gewerk het om die gesteelde kabels te vervang.
Pendelaars word aangemoedig om enige kriminele gedrag aan amptenare van die beskermingsdienste op stasies en by nabygeleë polisiestasies aan te meld, sê Mofokeng.