Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Treinskade in Kaap beloop al R450 m.

Prasa se bedrywighede word opsetlik deur mense “in en buite” die spooragentskap in die wiele gery.

Khanyisile Kweyama, voorsitter van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), het Dinsdag só aan parlementslede gesê.

Die brand by die Kaapstad-stasie. Twee treinwaens het gebrand. Foto: Heather Erdmann

Sy het gesê Prasa se direksie wil die besonderhede egter nie in die openbaar op die sitting van die parlement se vervoerkomitee bekend maak nie.

Hulle sal dit wel met geslote deure doen.

Volgens Kweyama is “voormalige werknemers” onder die mense wat teen Prasa werk.

Daar is ook probleme met werkers wat nie by die werk opdaag nie.

Kaapse voorstedelike treine is ’n ernstige probleemarea vir Prasa, het dit uit die voorlegging voor die komitee geblyk.

In die Wes-Kaap alleen is die verlies weens treine wat uitgebrand het R451,6 miljoen, het Sibusiso Sithole, Prasa se uitvoerende hoof, gesê. Dit sluit nie die skade van R150 miljoen aan die Kaapstad-stasie in nie.

Terwyl die sitting gister aan die gang was, het nog twee treinwaens in die stad uitgebrand.

Die minister van vervoer, dr. Blade Nzimande, het gesê dit is nie toeval dat hulle uitgebrand het terwyl die komitee sit nie.

Sithole het gesê herstelwerk word tans aan die Nyanga-substasie gedoen sodat die sentrale lyn op die Kaapse Vlakte weer volledig in bedryf kan kom.

Die werk behoort teen Junie aanstaande jaar voltooi te wees.

’n Betonmuur gaan gebou word om die spoorlyn te beskerm. ’n Kontrakteur is reeds aangestel en die mikpunt is om dit teen Oktober volgende jaar te voltooi.

Leonard Ramatlakane, ANC-LP, het egter gesê hulle het al ’n jaar gelede gehoor van die betonmuurprojek. Dit is dus niks nuuts nie en is steeds nie klaar nie.

Volgens Sithole sal die Bonteheuwel- en Kapteinsklip-substasie teen einde volgende jaar herstel wees.

Hy het gesê daar is ’n ooreenkoms met die provinsiale regering in die Wes-Kaap en die Stad Kaapstad om veiligheid te verbeter.

In Kaapstad word hommeltuie gebruik om die sentrale lyn te patrolleer, en daar is agt gewapende reaksie-eenhede en twee pantservoertuie beskikbaar gestel.

Meer oor:  Prasa  |  Khanyisile Kweyama  |  Wes-Kaap  |  Treine  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.