Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Trek uit,’ hoor seun met slanghemp op lughawe

’n Slang op ’n tienjarige seun se gunsteling-T-hemp het veroorsaak dat hy nie toegelaat is om verby die aanmeldpunt van die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg te gaan nie.

Stevie Lucas, hier by die George-lughawe se aankomsaal, is nie met sy gunsteling-T-hemp verby die aanmeldpunt op die O.R. Tambo-lughawe toegelaat nie.

Stevie Lucas se T-hemp het ’n groen slang daarop. Die hemp is swart met die kop van die groen slang wat voor sigbaar is en die stert agter.

Stevie was Dinsdag omstreeks 08:00 saam met sy familie op die lughawe en onderweg na George om by sy grootouers te gaan kuier. By die veiligheidshek het personeellede gesê hy moet sy hemp uittrek en eerder ’n ander hemp aantrek.

Volgens Kobus Rudolph, die familie se woordvoerder, het veiligheidsbeamptes gesê niemand mag speelgoed of rubberslange op die vlug neem nie.

“Met die gesin se bagasie wat reeds ingeboek was, het sy ma, Marga, gesê hy moet die T-hemp uittrek sodat die ander kant na buite wys. Sy wou ’n konfrontasie met die sekerheidsbeamptes vermy,” sê Rudolph.

Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) het gereageer op ’n e-pos wat die gesin ná die voorval gestuur het. Dit lui: “Dankie dat julle dit onder ons aandag bring. Let daarop dat ons vir ’n meer uitgebreide rede gevra het vir die klerereëls en beperkings. Ons sal aan julle terugvoering gee sodra ons dit ontvang.”

Stevie is van Wellington, Nieu-Seeland. Hy en sy familie was sedert Sondag met vakansie in Pretoria. Sy ouers, Steve en Marga, het mekaar in Engeland ontmoet en hulle in Wellington gevestig. Marga kom oorspronklik van Ficksburg in die Vrystaat.

Die voorkant van Stevie Lucas se gunsteling-T-hemp.

Stevie het sy liefde vir slange by sy pa geërf. Wanneer hulle Suid-Afrika besoek, gaan hulle gereeld na troeteldierwinkels op soek na reptiele, spinnekoppe, goggas en ander diere.

Dit is Stevie se derde besoek aan Suid-Afrika.

Rudolph sê Stevie het ’n goeie sin vir humor. Toe hy Sondag by sy familie se huis in Pretoria land, het hy vir sy ma ’n koue koeldrankie in ’n wynglas gevra, waarna hy toe ’n glasie klink en sê: “A toast to Africa”.

Betty Maloka, woordvoerder van die O.R Tambo-lughawe, het by navraag gesê die voorval was by die B-terminaal.

Sy het bevestig kringtelevisiebeeldmateriaal wys hoe Stevie sy T-hemp uittrek en dan onderstebo aantrek.

“Volgens die verslag van die sekerheidsbeampte wat aan diens was, het sy aan die seun se ma gesê slang-speelgoed en -afdrukke is ontoelaatbaar, maar dat sy ook die senior toesighouer se mening wou vra. Intussen het die seun se ma gesê hy sal dit binneste buitentoe aantrek om verdere vertragings te vermy,” sê Maloka.

“Die reëls vir verbode items word deur die standaarde van die Internasionale Burgerlugvaartorganisasie uiteengesit. Let op dat die veiligheidsbeamptes die reg het om te bepaal of ’n voorwerp die potensiaal het om medepassasiers en bemanningslede skade te berokken deurdat sekere voorwerpe of afdrukke hulle angstig kan maak,” sê Maloka.

’n Lys van verbode voorwerpe en items op die lughawe.

Meer oor:  Or Tambo-Lughawe  |  Johannesburg  |  Hemp  |  Slang  |  Vlugte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.