Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Treurspel op Koffiefontein was glo oor huur-regsgeding

Coenraad Badenhorst het glo weke voor Donderdagaand se skietvoorval buite Koffiefontein waarin hy ’n medeboer en ’n polisielid doodgeskiet en nog ’n polisiebeampte ernstig gewond het, gedreig hy gaan “almal vrekskiet”.

Coenraad Badenorst
Coenraad Badenorst, die skieter. Foto: Verskaf

Die skietery spruit glo uit ’n hofgeding oor onbetaalde huurgeld.

Paul Nel (66), ’n wild- en skaapboer, is in die voorval op sy stoep op die plaas Dassieskop doodgeskiet waar hy vir homself vleis gebraai en ’n drankie geskink het.

’n Glas wat omgeval het, ’n gebreekte bord by ’n bebloede stoel en twee stukkies vleis op die braairooster was Vrydag die stille getuienis van die treurspel.

Die vorige aand is ook Badenhorst (38) deur die polisie in ’n skietery, wat as ’n “oorlog” beskryf is, doodgeskiet.

Badenhorst het glo ’n pistool en ’n jaggeweer met ’n teleskoop en nagsigtoerusting in die skietery gebruik.

Nel en sy vrou, Alvira, en hul jong kind bly in Stilbaai en hy was elke drie weke op die plaas.

Pietro Nel, Nel se eksvrou wat nog saam met hom geboer het, sê Badenhorst het Nel etlike kere gedreig.

“Hy het hom nog op 4 Januarie vanjaar van ’n vreemde nommer gebel en sy dreigement in ’n teksboodskap herhaal. Hy het ook die name van ander boere genoem wat hy wil skiet.

“Hy het gesê hy gaan Paul, vir my en al sy geliefdes vrekskiet.

“Paul het die dreigement ernstig opgeneem.

“Paul sou Maandag ’n beskermingsbevel asook ’n onbevoegdheidsertifikaat om ’n vuurwapenlisensie te hê teen hom verkry het.”

Paul sou Maandag ’n beskermingsbevel asook ’n onbevoegdheidsertifikaat om ’n vuurwapenlisensie te hê teen hom verkry het.
Coenraad Badenhorst se bakkie aan die agterkant van Paul Nel se plaashuis. Foto: Mlungisi Louw

Nel het gependel tussen Koffiefontein, waar hy en Pietro saam ’n boerdery behartig het, en Stilbaai waar hy saam met Alvira en hul kind bly.

“Paul was ’n wonderlike mens en pa vir ons dogters en oupa van vyf kleinkinders,” sê Pietro.

Paul Nel
Paul Nel, wat Donderdagaand deur Coenraad Badenhorst op sy plaas buite Koffiefontein doodgeskiet is. Foto: Verskaf

Clivé Burger het namens Leandrie Croucamp, Badenhorst se vriendin, in ’n verklaring gesê Nel het grond van Daanti Badenhorst, Coenraad se pa, gehuur.

“Daar was ’n onafgehandelde regsgeding rakende ’n huurkontrak tussen die twee boere.

“Coenie was nie een wat onreg verdra het nie. Die implikasies van die regsgeding het swaar op sy hart gelê. Coenie het gevoel die reg laat hom en sy familie in die steek.”

Croucamp sê die welstand van familie en vriende was vir Badenhorst ’n groot prioriteit. 

“Coenie was ’n sprankelende mens wat voluit gelewe het. Hy was altyd bereid om enigiemand te help. Hy het ’n sagte hart gehad en was verskriklik lief vir diere.”

Die Badenhorst-familie betreur die sterftes.

Badenhorst word ook deur sy ma, Verity, broer, Brett, en suster, Tina-Mari Pribyl, oorleef.

Konst. Vuyani March (27) is in die kop geskiet en op die toneel dood, terwyl sers. George Calvert (41) in die gesig gewond is en in ’n kritieke toestand in die hospitaal is.

Die toneel waar die treurspel hom afgespeel het. Foto: Mlungisi Louw
Meer oor:  Paul Nel  |  Coenraad Badenhorst  |  Koffiekontein  |  Skietvoorval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.