Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Tshwane-metro veroordeel ‘bus-betoging’

Die Tshwane-metro het hom ten sterkste uitgespreek oor die optrede van busdrywers wat strate in Pretoria se sakekern Maandag versper het as deel van die munisipale vakbond Samwu se betoging vir beter lone.

Verskeie strate in Pretoria se sakekern is Maandag deur munisipale busse versper as deel van die betoging deur metro-busdrywers. Foto: Twitter

“Dié betoging is onwettig en het die metro se dienste tot ’n stilstand gebring,” het Omogolo Taunyane, metro-woordvoerder, luidens ’n verklaring gesê.

Verskeie strate in die Pretoriase middestad is Maandag met munisipale busse versper as deel van ’n betoging deur busdrywers wat ’n verhoging van 18% eis.

Strate soos Es’kia Mphahlele-, WF Nkomo-, Thabo Sehume- en Madibastraat is geraak.

“In stede daarvan om ’n regverdige forum te gebruik om hul eise op die tafel te sit, het werkers hulself tot boewery en wanorde gewend,” sê Taunyane.

“Hulle het die reg om te betoog en hulself vrylik uit te druk. Hul optrede mag egter nie die lewering van dienste belemmer en ten koste van die inwoners van Tshwane wees nie,” sê hy.

Sheila-Lynn Senkubuge, burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer in Tshwane, het vroeg Maandagmiddag aan Netwerk24 gesê dat insleepdienste besig is om die busse na die depot terug te neem. “Daar is al twee busse weggeneem. Talle van die busse is op hoofroetes geparkeer. Dit gaan ’n tydjie neem voordat die verkeer na normaal sal terugkeer.”

Volgens haar oorweeg die metro die opsie om die busbestuurders wat die busse wederregtelik uit die depot geneem het, van diefstal aan te kla. “Ons het ’n lys van al die busbestuurders wat die busse by die depot gaan haal het. Ons weet wie hulle is. Hul optrede sal nie ongestraf gelaat word nie,” sê sy.

“Die onderhandelings vir ’n 18%-loonverhoging vir die munisipale werkers het op niks uitgeloop nie en die verbreking van die dooiepunt word doelbewus deur die Tshwane-metro vertraag,” het Mpho Tladinyane, streeksekretaris van Samwu in die Groter Tshwane-streek, vroeër aan Netwerk24 gesê.

Volgens Tladinyane is die busbestuurders ontevrede oor die salarisverhogings wat sommige afdelingshoofde gekry het. “Werknemers op laer vlakke se salaris is nie verhoog nie. Al wat Samwu eis, is die billike behandeling van dié groep. Die metro gebruik vertragingstaktiek aangesien daar nie op werkers se eise gereageer word nie en daar voortgegaan is met die herstrukturering van vergoedingspakkette. Dié reaksie van die metro beskou ons as ’n verwerping van ons 18%-eis.

“Dit is jammer dat ons tot hierdie uiterste moet gaan om die metro se aandag te kry,” sê Tladinyane.

Meer oor:  Tshwane-Metro  |  Omogolo Taunyane  |  Pretoria  |  Betoging  |  Busse  |  Tshwane-Staking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.