Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Tshwane werk hard om stakers in toom te hou
Stakers Woensdag in die strate van Pretoria. Sowat 3 000 munisipale werkers neem reeds die afgelope drie dae aan ’n onwettige staking deel. Foto: Deaan Vivier

Hoewel munisipale werkers Woensdag vir ’n derde opeenvolgende dag Pretoria se strate ingevaar het, het die Tshwane-metroraad en owerhede die ontwrigting aan verkeer en sakebedrywighede tot die beste van hul vermoë beperk.

“Ons het hul optrede tot by die nabye omgewing van Tshwane-huis (die metroraad se raadskamers) in Madibastraat (Vermeulen-) tussen Lilian Ngoyi- (Van der Walt) en Sisulustraat (Prinsloo) beperk, wat gehelp het dat die buite-omtrek van die sentrale middestad gangbaar was,” sê sr.supt. Isaac Mahamba, Tshwane-metropolisiewoordvoerder.

Daar was wel enkele “splintergroepies” wat buite daardie gebied vullisdromme omgegooi en aan die brand gesteek het, maar volgens Mahamba is geen plundering by winkels aangemeld nie.

“Metropolisielede patrolleer die strate, met die polisie wat ons bystaan. Ons lede het die mandaat om op te tree sou hulle op misdadige optrede afkom,” sê hy.

Daarby het die owerhede Dinsdagnag al die stad se busse en vullisverwyderingsvoertuie gekonfiskeer en toegesluit sodat dit nie weer onregmatig gebruik kan word om strate te versper nie.

Een van die stakers buite Tshwane-huis.Foto: Deaan Vivier

“Daar is geen manier waarop die stakers daardie voertuie uit die depot gaan kry nie. Ons evalueer alle inligting, selfs gerugte op sosiale media, wat ons ontvang en is gereed vir enige gebeurlikheid,” sê Mahamba.

Sheila Senkubuge, burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer in Tshwane, sê in ’n verklaring hulle het Dinsdag net voor middernag minstens 40 busse teruggevat wat onwettig deur bestuurders in die staking gebruik is om strate mee te versper.

“Met die hulp van wetstoepassers, insluitend die Johannesburgse metropolisie en die taxibedryf in die groter Tshwane-streek, het ons die busse terug by die depot gekry. Dit is staatseiendom wat nie sonder toestemming uit die depot verwyder kan word nie,” sê sy.

Sy vra Tshwane-inwoners om verskoning vir die afgelope week se ontwrigtings en voeg by dat loononderhandelinge voortgaan.

Intussen bly die stad se busdienste opgeskort.

Omogolo Taunyane, woordvoerder van die Tshwane-metro, sê ander mense, soos lede van die metropolisie en skoonmakers, het nou ook aan die staking begin deelneem.

Samwu-lede maak hul griewe luid met liedjies en passies bekend.Foto: Deaan Vivier

“Hulle het wel vanoggend (Woensdag) die verkeer ontwrig, maar nie so erg soos die vorige twee dae nie omdat hulle nie toegang tot die busse en vullisvoertuie kon kry nie.

“Toe het die stakers buitebande gebrand en rommel gebruik om die paaie te versper,” sê sy.

Oor dreigemente van verdere ontwrigting en sabotasie van die stad se infrastruktuur sê Taunyane hulle doen hul bes om dit te beskerm.

“Benewens ons mense op straat, gebruik ons ook hommeltuig-kameras om ’n oog oor sekere gebiede te hou,” sê sy.

Taunyane sê hulle het Maandag van 18:00 tot 02:00 weer met die munisipale werkersvakbond Samwu vergader wat ’n loonverhoging van 18% wil hê en onderhandelinge het Woensdag voortgegaan.

Koena Ramotlou, Samwu-sekretaris, het Woensdagaand wel volgehou: Hulle staak nié.

“Ons het nie ’n staking aangekondig nie. Dit wat gebeur, is werkers wat op hul eie optree uit frustrasie,” sê hy.

Die vakbond sê ook in ’n verklaring die partye het Woensdag “onder die beskerming” van die bedingingsraad vergader.

“Samwu het ’n raamwerk aan die werkgewer aangebied wat ons glo aanvaarbaar vir ons lede sal wees en ’n oplossing aan alle partye bied. Die stad het onderneem om ’n mandaat te vra rakende die raamwerk en sal môre (Donderdag) daaroor terugvoering gee,” sê Ramotlou.

Stakers bring Madibastraat in die Pretoriase middestad Woensdag weer tot stilstand. Foto: Deaan Vivier

Meer oor:  Tshwane  |  Busbestuurders  |  Staking  |  Tshwane-Staking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.