Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Tuindienste-man held nadat hy vrou uit brandende huis red

’n Werknemer van ’n tuindienste-onderneming in Bloemfontein het Dinsdag sy lewe gewaag toe hy by ’n brandende huis in Fauna ingegaan het om ’n jong vrou te red wat in die stort vasgekeer was.

Lazarus Mabewa. Foto: Verskaf

Sonder om te huiwer het Lazarus Mabewa (30) ’n venster stukkend geslaan en by die huis ingeklim om na die 23-jarige vrou gesoek.

Die voorval het Dinsdag omstreeks 08:15 in Springbokweg, Fauna, gebeur.

Eugene Slater, eienaar van Steyn-tuindienste en Mabewa se werkgewer, is ook die brandende huis binne en het die vlamme met ’n tuinslang geblus, terwyl Mabewa na die vrou gesoek het.

Die jong vrou se ma, wat nie haar gesin wou identifiseer nie, sê die brand het vermoedelik by die stoof begin waarna die hele kombuis aan die brand geraak het. Die oorsaak van die brand word egter nog ondersoek.

Die vrou sê haar dogter was alleen by die huis en het geslaap toe die brand ontstaan het.

“Sy het gelukkig nie te vas geslaap nie en het wakker geword van die rook en die geluide van die vlamme. Sy was in die huis vasgekeer en kon nie by die sleutel in die kombuis uitkom nie.

“Sy het my gebel en ek was histeries. Ek het vir haar gesê om in die stort te klim en die koue water oop te maak. Ek het nie eens gedink dat sy deur die venster kon klim nie,” sê die ma.

Ek het my hemp oor my kop getrek, maar Lazarus het nie tyd daarvoor gehad nie. Hy het ’n hele ruk na die meisie gesoek.

Haar dogter het die familie se drie klein hondjies gegryp en in die stort gaan skuil.

Met haar aankoms by die huis het sy histeries geword toe sy nie haar dogter kon help nie en het sy voor Slater se bakkie ingehardloop om hulle voor te keer.

“Ek kon sien rook kom by die huis se dak uit,” sê Slater. Hy het Mabewa oor die muur gehelp en self oorgespring.

“Hy het die sitkamervenster stukkend geslaan en ingeklim om na die vrou te soek,” sê Slater.

Mabewa kon haar egter nie opspoor nie en Slater het met ’n tuinslang deur die venster geklim en die vlamme in die kombuis begin blus.

Slater sê weens die erge rook kon hulle niks sien nie. Die vlamme was reeds by die plafon.

“Ek het my hemp oor my kop getrek, maar Lazarus het nie tyd daarvoor gehad nie. Hy het ’n hele ruk na die meisie gesoek.

Eugene Slater. Foto: Verskaf

“Toe hy nie die kind kon kry nie, het hy die agterste kamer se venster stukkend geslaan en weer ingeklim. Hy het die meisie in die badkamer gekry. Hy kon haar nie deur die venster laat klim nie.”

Nadat Slater die vlamme geblus het, kon Mabewa en die jong vrou by die kombuis uitstap.

Mabewa, wat in die proses lig beseer is, is in die ambulans behandel voordat hy na die Pelonomi-hospitaal vervoer is vir behandeling. Hy is gou weer ontslaan.

“Ons sien nie onsself as helde nie,” sê Slater.

“Dit is net instink wat ingeskop het. Ons het nie eens met mekaar gepraat nie en het net reageer.

“Ons albei is pa’s, toe ons daardie vrou se gesigsuitdrukking sien, het ons geweet ons moet optree. Ek is trots op Lazarus. Ek weet nou ek kan oorlog toe gaan met hom,” sê Slater.

Die vrou sê sy is dankbaar oor die mans se heldedade.

“Ek is dankbaar hulle het stilgehou. As hulle dit nie gedoen het nie, sou ek seker met my kar deur die huis gejaag het om my kind te bevry.”

Die huis het rookskade opgedoen terwyl die kombuis erge brandskade opgedoen het.

Meer oor:  Huis  |  Red  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.