Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Tumi en gesin dalk binnekort ontslaan

Indien al die mediese ondersoeke Saterdag goed verloop sal die komediant en radio-omroeper Tumi Morake en haar gesin uit die hospitaal ontslaan word.

Só het Monica Steyn, Morake se reklameagent, Saterdagoggend gesê nadat Morake en haar gesin Vrydagaand omstreeks 19:00 op die R556 in ’n motorongeluk betrokke was.

Die komediant Tumi Morake. Foto: Twitter

Morake, haar man en drie kinders, was op vakansie en na Sun City onderweg toe die ongeluk gebeur het.

“Tumi en haar gesin het ligte beserings in die ongeluk opgedoen en hulle is oukei, maar steeds in die hospitaal,” sê Steyn.

Sy sê al die lede van die gesin kan praat en niemand is in ’n koma of het ooglopend ernstige beserings nie. Mediese ondersoeke word steeds gedoen om die omvang van hul beserings te bepaal en indien alles goed verloop, sal hulle moontlik later die dag ontslaan word.

ER24-nooddienste het op Twitter dié ongeluk tussen Morake se silwer Jaguar-voertuig en rooi Peugeot-motor as ’n trompopbotsing beskryf, maar Steyn sê die presiese oorsaak van die ongeluk is nog nie duidelik nie.

Sy sê altesaam tien mense was in die ongeluk betrokke en almal het ligte beserings opgedoen.

’n Ooggetuie, wat agter dié Peugeot gery het, het vertel hoe hulle tussen 120 km/h en 130 km/h op die pad gery het toe dié motor voor hom oor die pad begin swenk het.

Dié ooggetuie, wat nie sy naam genoem wil hê nie, sê dit het gelyk asof die rooi motor iets van voor getref het en daarom het die motor begin swenk.

Die kinders het vreeslik geskree, en die volwassenes het hulle probeer troos.
Ooggetuie

“Dit het sowat 50 m voor my gebeur. Ek het dadelik stadiger gery en by die ongelukstoneel stilgehou.”

Hy sê dit was eers toe hy nader aan die rooi motor stap dat hy die silwer motor van Morake in ’n klein sloot langs die pad gesien het.

Die ooggetuie sê hy het nie na Morake se voertuig gaan kyk nie, want hy het gesien hoe volwassenes en kinders uit die silwerkleurige voertuig klim.

“Die kinders het vreeslik geskree, en die volwassenes het hulle probeer troos. Daar was skielik baie mense op die toneel,” sê hy.

Die ooggetuie sê hy is nie presies seker wat tot die ongeluk gelei het nie.

Hy sê hy het eerder die vrou in die rooi motor gehelp, want sy kon nie uit die motorwrak klim nie.

“Die vrou (in die rooi motor) het in die voorste passasiersitplek vasgesit en ek het haar daar uitgehelp. Ek dink sy het dalk ’n paar ribbebene seergemaak.”

Die ooggetuie sê hy is nie presies seker wat tot die ongeluk gelei het nie.

“Ek het nie die SUV (silwer voertuig) gesien nie, dalk het dit voor die rooi motor (Peugeot) gery, óf dalk het die voertuig in die aankomende verkeer gekom.

“Al wat ek kon sien is dat die rooi motor aanduiding gee om die motor voor hom verby te steek en die volgende oomblik begin die einste rooi motor oor die pad swenk,” sê die man.

Meer oor:  Tumi Morake  |  Sun City  |  Beseer  |  Botsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.