Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
2 dood toe hulle seekoei uit dam moet haal

Die lyke van twee mans van Mpumalanga wat na bewering opdrag gegee is om ná sononder die karkas van ’n seekoei uit ’n dam vol krokodille te haal, is gevind.

Die kano waarin die twee mans gesit het toe een van hulle vermoedelik deur ’n krokodil gegryp is, word gesleep. Foto’s: Pottie Potgieter

Joseph Mohando (44) en Emanuel Mthabini (28) het vermoedelik verdrink nadat hulle Maandag 25 Junie gespook het om die seekoei uit ’n plaasdam op Kearsney Estate noord van Barberton te haal.

Die seekoei was ’n laspos op die plaas en is geskiet deur Jakobus Venter, ’n professionele jagter, wat volgens Mpumalanga se toerisme-en-parkagentskap (MTPA) ’n permit gehad het om die lastige dier van kant te maak.

Die polisie sê dit was Venter wat vir Mohando en Mthabibi – albei werknemers van hom – gestuur het om in ’n groen kano te klim en die seekoeikarkas van meer as 1 000 kg uit die plaasdam te probeer kry.

Volgens kol. Mtsholi Bhembe, polisiewoordvoerder van Mpumalanga, het ooggetuies omstreeks 19:30 ’n stampgeluid uit die rigting van die twee mans se bootjie gehoor. Die son sak in die winter al kort ná 17:00 daar.

Die kano is omgegooi en die mans het in die water verdwyn.

Eers ’n week later – die afgelope Maandag – is Mohando se oorskot in die dam gevind. Mthabini se liggaam is Woensdag gevind met ’n krokodilbytmerk aan sy arm.

Dié krokodil is doodgeskiet omdat vermoed is hy het een van die vermiste mans opgevreet.

Volgens kapt. Pottie Potgieter van Ehlanzeni se polisieduikeenheid is Mthabini waarskynlik deur ’n krokodil gevang en saam met die kano omgepluk. Só het ook Mohando vermoedelik verdrink.

“Ons kon nie daardie week inspring om die lyke te soek nie, want daar was heeltemal te veel krokodille in die dam,” sê Potgieter.

Volgens Bhembe was dit gevaarlik en onverskillig om die mans in die donker uit te stuur.

“Venter lewer nie kommentaar nie, want hy word op die oomblik ondersoek,” sê Bhembe, wat bevestig ’n geregtelike doodsondersoek word gedoen.

Corrie Janse van Vuuren, Venter se prokureur, reageer nie op Rapport se navrae nie.

Jannie Visser, ’n suikerrietboer en voorman van die Farming & Tourism-maatskappy se plaas op Kearsney Estate, sê die seekoei was ’n groot gevaar.

“Die seekoei het in die skemer uit die dam gestorm en my werkers begin rondjaag,” sê Visser. “Snags het daai seekoei in my plaas ingevaar en my suikerriet opgevreet.

“Ek is ’n boer, nie ’n jagter nie. Ek weet nie eens wat was die geslag van die seekoei nie. Ek het regtig hulp nodig gehad.”

Louw Steyn, die MTPA se bestuurder van probleemdierbeheer, het bevestig ’n wettige permit is uitgereik om die seekoei te skiet. Hy bevestig ook die MTPA het Jakobus Venter gehuur om dit te doen.

“Daar was nie ’n boer op die plaas of ’n lid van die MTPA beskikbaar met die vermoë om so ’n groot dier te skiet nie. Dan huur ons ’n professionele jagter. Niemand van die parkeraad was egter op die perseel nie, so ons het geen idee wat daar gebeur het nie.”

Die Laevelder berig dat ’n groot krokodil ook tydens die soektog na die twee mans se lyke geskiet is. Hy was dikgevreet en daar is verkeerdelik vermoed hy het een van die slagoffers opgevreet.

“Dit is te koud hierdie tyd van die jaar,” sê Potgieter. “Daarom hou ’n krokodil sy prooi vir later, veral deur die dag as dit warmer is.”

Intussen is Mohando, oorspronklik van Burundi in Sentraal-Afrika, se familie waarskynlik nog onbewus dat hy dood is. Volgens Bhembe weet hulle nie eens wat die naam van sy geboortedorp is nie.

Mthabini, van Tzaneen in Limpopo, se familie is wel in kennis gestel van sy dood.

Nie Bhembe of Potgieter kan bevestig of die seekoei se karkas toe uit die dam verwyder is nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.