Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
2 met brandwonde sterk aan ná Worcester-ontploffing

Twee mans sterk in ’n hospitaal aan ná hulle brandwonde in Woensdag se ontploffing van ’n gastenkwa in Worcester se nywerheidsgebied opgedoen het.

Bennie KochFoto: Facebook (SA Long-Distance Truckers)

Bennie Koch (63), ’n logistieke bestuurder vir Môreson Grondverskuiwers op Robertson, word in die Mediclinic Worcester behandel ná sy bakkie die oggend in die ontploffing in Hoogstraat omgeslaan en uitgebrand het.

Hy het ten tyde van die ontploffing verby die gastenkwa gery.

Volgens Elmien Koch, sy vrou, het dit teen Donderdag “baie beter” met hom gegaan en het sy aangedui dat sy die volgende dag meer besonderhede sal kan verskaf.

Bennie is ook in die hospitaal besoek deur Klaas de Vos (47), ’n werknemer van Raimondis Price Rite, wat hom gehelp het om van die brandende wrak te vlug en hom na die hospitaal geneem het, berig die Standard.

Elizabeth (66) en Alan (33) Ashworth, ’n ma en seun, is ook die oggend beseer toe hulle in ’n bakkie by die verkeerslig in Hoogstraat gewag het ten tyde van die ontploffing.

Alan word in die waakeenheid van die Tygerberg-hospitaal behandel en sy ma is Donderdag uit die Worcester-hospitaal ontslaan, berig die Standard.

Intussen het die Worcester-polisie bevestig dat die bestuurder van die vragmotor met die gastenkwa ’n verklaring oor die voorval as deel van die ondersoek afgelê het. Dié man het voor die ontploffing weggekom en is ongedeerd.

Klaas de Vos (47)Foto: Jaco Marais

’n Verslag van die brandweer sal ook aan die ondersoekbeampte oorhandig word vir die staatsaanklaer om oor moontlike vervolging te besluit.

Die polisie ondersoek ’n saak van roekelose en nalatige bestuur en kwaadwillige saakbeskadiging.

Miljoene rand se skade is aan ondernemings in Hoogstraat in die nywerheidsgebied aangerig weens twee ontploffings om 06:00 en 06:10 en die brande wat daarop gevolg het.

Ses geboue in Hoogstraat is verwoes en ses tot agt geboue is beskadig, het die brandweer Woensdag bevestig.

Ses mense is ook beseer, onder andere Koch, die Ashworths en twee brandbestryders wat ligte beserings opgedoen het.

Kapt. Lindikhaya Mkhontwana, polisiewoordvoerder op Worcester, het bevestig dat twee bakkies wat oorkant die departement van water en sanitasie se gebou in die straat gestaan het ook beskadig is. Die een bakkie se dak is beskadig ná die gastenkwa in twee geskiet het en een van die gedeeltes daarop geval het. Die ander bakkie het aan die brand geslaan.

Die Breedevallei munisipaliteit het Woensdagaand bevestig dat die waterdienste in Hoogstraat en die omliggende gebiede ten volle herstel is en die pad vir verkeer oopgestel is.

Die kragverskaffing aan Hoogstraat is ook die aand al herstel, terwyl tegnici nog aan die oorhoofse kragdrade gewerk het en die krag geleidelik in omliggende dele aangeskakel is.

ACDC Express, een van die winkels wat uitgebrand het, het Woensdag op sy Facebook-blad bevestig dat hy hard aan die werk is om die winkel weer in ’n werkende toestand te kry.

Bruno Raimondi, eienaar van Raimondis Price Rite, het Donderdag bevestig dat ’n groot gat in die voorste muur van die groothandelaar gemaak is toe ’n gedeelte van die tenkwa dit getref het.

Nuwe naamborde is in die afgelope 14 dae binne en buite die winkel aangebring. Die naamborde aan die buitekant is gedeeltelik verwoes.

Die muur en pilaar binne die winkel het strukturele skade gely en word deur ingenieurs en boukontrakteurs ondersoek. Die kragtoevoer aan die gebou is ook ontwrig en alles moontlik word gedoen om dit te herstel, sê Raimondi.

“Dit was ’n skok vir ons almal. Ons is tans in gesprek met die versekeraar en diensverskaffers wat ons bystaan om die winkel teen Donderdag 18 Julie te heropen, twee dae later as wat beplan is.”

Na bewering het die vragmotorbestuurder agteruit in ’n boom vasgery en is ’n gaswolk in die straat vrygestel.

Die wrak van ’n vragmotor lê Woensdag in Hoogstraat, Worcester ná ’n ontploffing die oggend in ’n gastenkwa.Foto: Jaco Marais
Brandweerwaens staan Woensdagoggend voor winkels in Worcester se nywerheidsgebied wat ná ’n gasontploffing aan die brand geslaan het.Foto: Jaco Marais

De Vos (47) het Woensdag aan Netwerk24 gesê dat hy die oggend gehelp het om ’n vragmotor onderweg na Ceres te laai, toe hy en sy kollegas gas geruik het.

Ná die eerste ontploffing het hy Koch gesien wat onder sy brandende bakkie probeer uitkruip en om hulp geroep het.

“Toe ons uitstap, het ons die eerste ontploffing gehoor en ons het die man in die voertuig gesien. Ek het aan my kollega gesê dit maak nie saak wie se bakkie dit is nie, dié ou kort hulp en ek het hom na die hospitaal geneem.”

Volgens De Vos het die tweede ontploffing met sy terugkoms van die hospitaal af gebeur en het dit die tenkwa in die lug laat opskiet.

Meer oor:  Worcester  |  Wes-Kaap  |  Skade  |  Ontploffing  |  Tenkwa  |  Brandwonde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.