Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Twee Oseane: Houtbaai sal nie sy held Ryan Sandes sien

Die bekende Suid-Afrikaanse ultra-veldpadwedloopatleet Ryan Sandes wat Saterdag in Kaapstad die eerste keer aan die Twee Oseane-wedloop oor 56 km deelneem, het gehoop op groot ondersteuning van vriende en familie wanneer hy deur Houtbaai hardloop.

Ryan Sandes Foto: Sarel van der Walt

Dit sal nie meer gebeur nie omdat die organiseerders 36 uur voor die wedloop besluit het om die roete te verander weens moontlike betogings in die omgewing van Houtbaai.

Die 37-jarige Sandes wat in Houtbaai woon en al jare lank een van die voorste ultraveldatlete ter wêreld is, het Donderdag selfs gespot hy sou sy “paspoort van die Republiek van Houtbaai” met hom saamdra.

Die organiseerders sê die besluit om die roete te verander is geneem ná ’n vergadering Donderdagaand van die organiseerders, die polisie, die Wes-Kaapse regering, die Kaapstad-metro en die nooddienste.

Betogings kom die laaste ruk gereeld in die omgewing van Houtbaai voor.

Meer as 10 000 atlete uit 80 lande sal Saterdagoggend deelneem aan dié wedloop, wat die 50ste keer sedert 1970 gehardloop word.

Die besluit om die roete te verander beteken ook die deelnemers sal nou nie meer oor die skilderagtige Chapmanspiek hardloop nie, maar oor Ou Kaapse Weg.

’n Afloswedloop wat die eerste keer deel van die wedloop sou wees, is ook gekanselleer.

Die Loskop-wedloop oor 50 km in Mpumalanga tussen Middelburg en die Loskopdam verlede naweek is weens protesoptrede met ’n uur vertraag.

Die polisie en die verkeerspolisie moes eers die pad skoonmaak voordat die wedloop kon begin.

Die roete van die Twee Oseane is ’n paar jaar gelede ook verander toe rotsstortings op Chapmanspiek voorgekom het. Die atlete het toe ook oor Ou Kaapse Weg gehardloop. 

Die gewilde Twee Oseane-halfmarathon waaraan 16 000 atlete deelneem, word nie deur die besluit geraak nie.

Gerda Steyn (regs), verdedigende kampioen in die afdeling vir vroue, aan die woord op ’n nuuskonferensie. Langs haar is die Pool Dominika Stelmach, verlede jaar se naaswenner.Foto: Sarel van der Walt

Gerda Steyn, die verdedigende kampioen in die vroueafdeling van die ultrawedloop, het Vrydagoggend op Twitter met verwysing na die roeteverandering geskryf daar is “niks soos ’n draaibal op die laaste oomblik nie”.

Irvette van Zyl
Die Olimpiese marathonatleet Irvette van Zyl neem Saterdagoggend in Kaapstad die eerste keer aan ’n ultrawedloop deel wanneer sy vir die Twee Oseane-wedloop aantree. Foto: Sarel van der Walt

’n Groep Keniaanse atlete het maande lank hoog bo seevlak in Kenia geoefen vir ’n aanslag op Thompson Magawana se 31 jaar oue rekord van 3 uur, 3 minute

en 44 sekondes. Hulle sal steeds probeer om dié tyd te oortref. (Lees die berig in Sport.)

Sandes, wat dae aaneen deur berge en dale en deur woestyne in wedlope hardloop, het Donderdag op ’n nuuskonferensie in Kaapstad vertel hy het as kind langs die strate van Houtbaai gestaan om sy pa, wat verlede jaar oorlede is, aan te moedig in die ses Twee Oseane-wedlope waaraan hy deelgeneem het.

Hy hardloop die wedloop ter ere van sy pa.

* Die wedloop sal nie vanjaar op televisie uitgesaai word nie, maar wel op die wedloop se webwerf, twooceansmarathon.org.za.

* Hou Netwerk24 se regstreekse dekking van die wedloop Saterdag dop vir nuus.

Meer oor:  Ryan Sandes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.