Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Tweeling blink uit ná ma gesin probeer uitwis

Vier jaar nadat hul ma probeer het om hul hele gesin uit te wis, sê Yusuf en Yaqoob Arrison hulle lewe sonder verwyt en nog minder laat hulle toe dat dit hul goeie herinneringe van hul kinderdae oorskadu.

Aneesa Arrison het haar oudste seun, Waseem (21), op 14 Januarie 2017 in hul huis in Bernadino Heights in Kraaifontein, Kaapstad, doodgeskiet. Daarna het sy die 14-jarige Yusuf in die arm en kop geskiet. Yaqoob, wat in die hand gewond is, het gemaak of hy dood is.

Hy moes ook toekyk hoe Aneesa haarself doodskiet voordat hy sy tweelingbroer uit die huis geabba het om hulp te kry.

Die Arrison-broers (nou 18) se storie word in die jongste episode van die reeks Keerpunt op VIA (DStv-kanaal 147) vertel en hulle het ook Vrydag met Rapport daaroor gesels.

Die tweeling Yaqoob (links) en Yusuf Arrison. Foto: VIA

Hulle bly steeds in dieselfde huis. Yusuf is nou ’n tweedejaar-sielkundestudent aan die Universiteit van Wes-Kaapland, terwyl Yaqoob hom vir ’n loopbaan as klankingenieur voorberei.

Op die oog af sou jy nooit kon raai hul lewe het in ’n oogwink onherroeplik verander nie.

Ná hul pa, Armien, se dood aan breinkanker het hul ma, Aneesa, glo ’n groot deel van sy pensioengeld belê in wat geblyk het moontlik ’n ponziskema was. Die finansiële druk wat gevolg het, het haar in ’n donker depressie laat verval.

Die Arrison-gesin in gelukkiger dae. Van links is Aneesa, Yaqoob, Waseem, Yusuf en Armien.

Een Vrydagaand het die tweeling ’n fliek op die televisie gekyk en net daar op die rusbank aan die slaap geraak.

Die Saterdagoggend was dit nog donker toe Yusuf ’n knalgeluid hoor en Yaqoob wakker maak. Yaqoob was nie seker wat dit was nie. “Ek het gedink iets val net.”

Min het hulle geweet dit was die skoot wat hul ouboet se lewe kortgeknip het.

“Ek het gesê: ‘Dis oukei, Yusuf, ignoreer dit net.’ ”

Maar toe Yaqoob hom weer kom kry, sien hy iemand – hy kon in die donker nie uitmaak dis sy ma nie – skiet Yusuf eers in die arm en toe in die kop.

“Daarna onthou ek net die persoon wat oor my gestaan het en my toe geskiet het, en my eerste instink was net om my kop te bedek. Ná ’n paar minute het dit vir ’n rukkie stil geword. Die volgende ding wat ek gesien het, was dat my ma die lig aanskakel, en toe weet ek dat dit sy is.

“Sy het vir ons gesê om net daar te lê en stil te bly. Sy het gedink dit is die laaste skoot. Ons het toe net daar gelê, maar sy het geweet dat ons nog steeds by ons bewussyn was en alles. Maar sy het gedink miskien sal ons nie oorleef nie.”

Yaqoob, wat sê sy ma was sy gunsteling-ouer, vertel verder: “Ek onthou net hoe ek my ma op die bank sien sit het, en toe skiet sy haarself. Maar daarna het ek net geweet dat ek Yusuf na veiligheid moes neem.”

Albei het fisieke letsels wat die storie van hul traumatiese ervaring vertel: Yusuf het sigprobleme en senuwees in Yaqoob se linkerhand is beskadig.

Die tweeling het die sielkundige trauma elk op sy eie manier verwerk. Sielkundiges het Yusuf gehelp, terwyl Yaqoob troos by vriende en familie gevind het.

Hul tannie Zubeida de Villiers het ná die tragedie in die gesin se huis kom bly en is as hul wettige voog aangewys.

“Soms sit ons om die tafel en uit die bloute kom die gesprek (oor ons gesinslede) na vore en dit is nooit iets slegs nie. Dit is altyd iets wat ons onthou van toe ons jonger was,” vertel Yaqoob.

Yusuf beaam: “Ons sal altyd praat oor die een spesifieke ding van elke individu en die een ding wat opvallend was.”

Dit sluit in hul ouboet se liefde vir die gim en videospeletjies, hul ma se heerlike kos, en hul pa wat saam met hulle krieket in die pad sou speel.

Meer oor:  Via  |  Kaapstad  |  Kraaifontein  |  Oorleef  |  Tweeling  |  Familie  |  Ma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.