Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Uber-nagmerrie: ‘Bestuurder ry hom om’

’n Uber-gebruiker van Pretoria wat glo aspris deur die Uber-bestuurder omgery is, het moontlik breinskade.

Beyers Serfontein (45) was gister nog in ’n geïnduseerde koma om die swelling op sy brein te behandel nadat hy verlede naweek in Centurion omgery is.

Sy vriendin, Linda Bennett (37), het buite die waakeenheid van die Netcare Unitas-hospitaal aan Rapport vertel die gebeure is steeds onwerklik.

Serfontein en Bennett, van die noorde van Pretoria, het by familie gaan kuier en ’n Uber gebruik omdat hulle nie onder die invloed van drank wou bestuur nie. Bennett sê hulle het omstreeks 01:30 Sondag ’n Uber bestel. Sy sê die bestuurder het baie onverskillig bestuur en hulle het hom gevra om stadiger en versigtiger te ry. Toe hy dit nie doen nie, het hulle gevra om uit te klim en ’n ander Uber te bestel.

“Hy het skielik rem getrap. Ons het uitgeklim en hy het weggejaag voordat ons die koelhouer uit die kattebak kon haal. Beyers het agterna gehardloop langs die kar om hom te stop. Ek het vir hom geskree hy moet dit net los,” vertel Bennett.

Hy het omgedraai en teruggestap na haar toe. “Die volgende oomblik het die Uber-bestuurder ’n U-draai gemaak, op Beyers afgejaag en hom getref. Die ou het weggejaag.”

Bennett het gegil en inwoners van ’n kompleks daar naby het die polisie ontbied.

Beyers het ernstige hoofbeserings, frakture aan sy gesig en ribbes en ook ’n gebreekte elmboog en enkel. Sy broer, Johann Serfontein (39), sê die bloeding op sy brein het opgeklaar, maar daar is steeds swelling. Totdat dit sak, kan hulle nie bepaal of Beyers breinskade opgedoen het nie.

Johann is omgekrap omdat hulle nog nie enige inligting van Uber kon kry nie en die polisie nog niemand aangekeer het nie.

Hulle was veral ontstig toe die polisie hulle inlig dat die bestuurder se weergawe van gebeure van hulle s’n verskil.

Die bestuurder het glo aanvanklik gesê Beyers het uit die motor gespring. Hy het ook glo gesê Beyers het hom deur die motorvenster gewurg en hy het hom toe per ongeluk raakgery.

“Dit is beslis nie wat gebeur het nie. Ek was daar,” sê Bennett.

Beyers het die Uber op sy foon bestel. Sy familie ken nie die kode nie en hulle kan dus nie die ritgeskiedenis nagaan nie.

Monique Thompson, ’n Uber-woordvoerder, sê die betrokke bestuurder is as ’n voorsorgmaatreël van die platform af geblok.

“Ons het kontak gemaak met (Serfontein se familie) en is ook in kontak met die bestuurder. Ons sal doen wat nodig is om die polisie te help.”

Kapt. Kay Makhubela, ’n polisiewoordvoerder, sê hulle ondersoek die saak en het nog niemand in hegtenis geneem nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.