Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Uitblinker-matriekseun van Brandfort skiet homself

“Ons hart is gebreek. Hy was die mooiste seun en sy klasmaats is baie getraumatiseer.”

So sê Handré Alberts, skoolhoof, nadat die Hoërskool Staatspresident Swart in Brandfort se koshuishoofseun en die skool se onderhoofseun, André Jordaan (18), homself Vrydagmiddag geskiet het.

Die Jordaan-gesin bly op ’n plaas in die distrik.

Alberts sê die skool doen alles moontlik om na die welstand van veral die matrikulante om te sien en ’n berader en leraar het reeds Maandagoggend met die leerlinge gesels.

“Hulle gaan ook individuele sessies met die leerlinge hê wat dit nodig het.”

André Jordaan (18), wat Vrydag sy eie lewe geneem het.

Alberts sê hy wil glad nie bespiegel oor waarom André homself geskiet het nie.

“Niemand weet wat die redes vir sy besluit was nie. Daar was geen tekens dat hy depressief is nie,” sê hy.

Hy sê André het buiten leierskap ook in sport presteer.

“Hy was ’n goeie sportman en het eerstespanrugby gespeel en ook in hamergooi uitgeblink.”

André het vir die Kiewiete, die Vrystaat se plattelandse rugbyspan, uitgedraf en het agtsteman en flank gespeel.

Alberts sê hy het André geken sedert hy vyf jaar gelede as skoolhoof aangestel is.

“Hy het die mooiste glimlag gehad en was regtig ’n mooi en behulpsame seun met goeie waardes.”

Sy ouers, André en Michelle, is stukkend, sê Alberts. Hy het ook ’n ouer suster, Chandré, en ’n broer, Wian, wat nog in die laerskool is.

Alberts sê hoewel niemand weet wat André daartoe gedryf het om sy eie lewe te neem nie, is dit ’n baie moeilike tyd vir skoolkinders en veral matriekleerlinge. Mense vind dikwels hul identiteit in dit waarin hulle uitblink en daar is tans geen sportbyeenkomste of ander buitemuurse aktiwiteite nie.

“Die kinders is geweldig onseker oor die toekoms. Alles het verander en daar is nie antwoorde nie. Ek glo dit plaas baie druk op kinders,” sê Alberts.

Die skool gaan ’n troosdiens ingevolge die huidige Covid-19-regulasies hou om van André afskeid te neem, maar Alberts sê hy weet nie watter reëlings die familie getref het nie.

  • Jy kan die Suid-Afrikaanse Depressie en-Angsgroep (Sadag) se 24 uur-geestesgesondheidshulplyn bel by 0800 456 789 of 011 234 4837 of die Selfdood-krisislyn by 0800 567 567. Die WhatsApp-geselslyn is 076 882 2775 of SMS 31393. Jy kan ook namens vriende bel as jy wil help.
Meer oor:  Brandfort  |  Selfdood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.